Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nuwe variëteit van ywerige groeier selde beskimmeld

Skaduryke somertuine kan weer met stroke kleurvolle beddings propvol impatiens gevul word.

Ná bykans ’n dekade sonder die plante, is die vlytige liesbet (Impatiens walleriana) weer beskikbaar as ’n hoogs siekte­bestande variëteit genaamd Beacon.

In alle opsigte boots dié nuwe impatiens die tradisionele Super Elfin na as ’n vinnig­groeiende, digte beddingplant, maar dit sal nie voor dons­skimmel swig nie (die swamsiekte wat die Super Elfin uitgewis het).

Hierdie geslag impatiens is die gevolg van intensiewe teling en samewerking tussen internasionale saadondernemings wat deur die wêreldwye verskynsel van donsskimmel geraak is.

Die plante is verlede jaar in proewe op verskillende inter­nasionale plekke getoets, onder meer in Ball Straathof se proef­tuine in Johannesburg.

Volgens Kathy Varney van Ball Straathof is Beacon by Ball Straathof tussen die vatbare Super Elfin- en Imara-variëteite geplant, ’n ander soort wat weerstandig is teen siektes in Oktober.

Teen Januarie het die Super Elfin-variëteit donsskimmel gehad en teen die einde van Februarie is dit uitgedun.

Die Imara het donsskimmelspore op die blare getoon en die onderste blare laat afval, maar het hul blomme behou.

Geen spore was op die Beacon sigbaar nie, en plante het hul netjiese groei gehandhaaf, wat blykbaar kenmerkend van die meer weerstandige variëteit is.

Albei die weerstandbiedende variëteite het in die kouer maande uitgehou.

Volgens Varney kan die term “hoogs bestendig” gebruik word vir plante wat simptome van siektes kan toon, veral as dit onder die druk van ongunstige weersomstandighede is, maar voortgaan en gedy. Blare kan afval of verkleur, maar plante sal nie vrek nie.

Beacon’ se kleurreeks word jaarliks vergroot en die huidige reeks bevat helderrooi, salmpienk, wit, violet, oranje en koraal. Plante word 25 cm tot 30 cm hoog en breed en vorm netjiese heuwels wat van die vroeë somer tot die eerste ryp met blomme bedek is.

’n Massa impatiens waarborg altyd ’n skouspel. Dit is een van die maklikste en goedkoopste maniere om ’n skaduryke hoek, ’n swembadruimte of ??die ruimte rondom ’n tuinhuisie op te helder.

Impatiens vaar ook goed in potte en mandjies met daaglikse natmaak en voeding minstens een keer per maand met ’n vloeibare kunsmis.

Nie baie blomme groei onder bome nie, maar impatiens doen dit moeiteloos. Los ’n radius van 40 cm rondom ’n boom en berei die grond so diep en ryk as wat jy kan voor deur die oppervlak­boomwortels te verwyder.

Kombineer beddings met die groter Nieu-Guinee-impatiens, wat ook bestand is teen donsskimmel. Divine het die grootste kleurreeks van al die Nieu-Guinees, insluitend kleure soos laventel, sagte pêrel en sagte pienk, asook enkele helderder skakerings.

Waar daar ’n mengsel van son en skaduwee is, gebruik die SunPatiens-hibried vir sonnige dele. Plante in die volson moet in die somer daagliks water kry.

Sou hulle weens ’n gebrek aan water begin verlep, sal hulle weer regop spring nadat hulle nat­gemaak is.

– Alice Coetzee, Netwerk24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.