Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Om nie iets te mis nie

Ek kyk soms na foto’s wat deur ou meesters geneem is, of skilderye wat deur beroemde skilders op die doek gebring is, en ek wonder: “Hoe het hierdie persoon beroemd geraak? Wat maak hierdie foto of skildery so spesiaal?”

Dieselfde geld natuurlik sommige boeke, beelde en ander vorme van kuns. Gewoonlik kom ek tot die slotsom dat ek dalk net te min weet van die bepaalde kunsvorm of styl. Dit bekommer my. Wat mis ek weens my onkunde of gebrek aan smaak?

Soos wat baie mense skynbaar FOMO (Fear of Missing Out) in terme van sosiale media het, so het ek kunste-FOMO. Ek is bang ek mis iets. Is ’n onverstaanbare toneelstuk werklik so goed soos al die kunskenners sê, of is daar ’n bepaalde snobisme in die sogenaamde verstaan van dinge wat by die oningewyde verbygaan?

Synde my belangstelling in fotografie al van kindsbeen kom, probeer ek veral die kuns in die werke van ou fotografie-meesters insien. Dikwels word ek verras as ek verder soek.

Dis wanneer ek na die meesters, soos Ansel Adams, se foto’s kyk dat ek besef hoeveel ’n mens misloop as jy deur sogenaamde belese, geoefende of geleerde oë na kuns kyk. Iewers tussen kyk en sien lê daar onbegrensde dieptes van kundige onkunde en vooroordele wat maak dat ’n mens soms die meesterlike miskyk.

’n Vervelige Ansel Adams-foto, uit ’n ander hoek as die gewone, word opeens iets wat mens wil raam, om weer na te kyk, en elke keer as ’n mens daarna kyk weer iets anders te sien wat jou verras.

Dit is dan wanneer ’n mens besef dat kennis dikwels ’n deurskynende blinddoek is wat ’n mens toelaat om te sien, aan te beweeg, en selfs te kom waar jy wil wees – maar hoe meer ’n mens weet, hoe minder sien jy. En hoe minder jy sien, hoe meer mis jy.

Die groot uitdaging bly om eers die blinddoek raak te sien, en dit is nie maklik nie, veral as dit so gemaklik oor jou oë pas dat jy vergeet om FOMO te hê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.