Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Onderwys-man se loopbane ’n ‘loutere vreugde’

Dit is min mense beskore om ’n uiters sukesvolle eerste loopbaan met ’n tweede loopbaan op te volg wat as ’n “loutere vreugde” beskryf word.

Okkie Botha, oudskoolhoof van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem en bekende in onderwyskringe in die Vrystaat, sê dit is amper te goed om waar te wees dat hy ná ’n geseënde onderwysloopbaan kon aftree – net om ’n jaar later ’n tweede loopbaan by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) te begin. Hy het onlangs ook by Fedsas afgetree.

“Ek en my vrou, Ria, het ná my ‘eerste’ aftrede vir ’n jaar rond­gereis en ontspan. My daarop­volgende vyf jaar by Fedsas het my min of meer presies dieselfde vreugde verskaf.”

Die Oos-Vrystaat pomp deur dié gebore Vrystater se are. Ná sy eerste sowat tien jaar in Winburg het die gesin Harrismith toe verhuis.

Daar het Okkie in 1969 “aan die voet van die Platberg” matrikuleer.

Sy onderwysloopbaan sou hom met ’n bietjie van ’n ompad uiteindelik weer na die Oos-Vrystaat bring, waar hy uiteindelik 20 jaar lank die gerespekteerde hoof van Witteberg was.

Ná militêre diensplig en toe ’n BA-, HOD- en B.Ed-graad aan die universiteit van die Vrystaat, het Okkie in 1975 by die Hoërskool Paul Erasmus op Senekal as jong onderwyser ingeval.

“Ek het Afrikaans en Duits gegee en vir hokkie, atletiek, Voortrekkers en tennis gelééf.”

Midde al dié lewensvreugde het Okkie ook die rekeningkunde-onnie aan dieselfde skool, ene juffrou Ria Nel, raakgeleef.

“Ons is in 1980 as mnr. en mev. Botha terug na die Hoërskool Harrismith,” sê hy trots.

Dit is hier wat ’n ongewone buitemuurse akwititeit oor Okkie se pad gekom het.

“Ek is as kapelmeester van die kadetorkes aangestel. Dit was aanvanklik die mees uitdagende – maar later ook een van die mees bevredigende – aktiwiteite van my amper 40 jaar in die onderwys.”

Groter dinge het egter op die geliefde Mnr. Botha gewag toe hy eers as departementshoof en toe as adjunkhoof by die Welkom-Gimna­sium aangestel is.

“Veral hokkie het my baie besig gehou.” voeg hy droogweg by.

Sy kennis van Afrikaans en Duits het daartoe gelei dat hy later die hoofeksaminator van die letter­kundevraestel geword het.

Buiten die bestuursblootstelling in Welkom, het Okkie se eerste ware leierskapstoets as skoolhoof van die Hoërskool Pellissier in Bethulie gekom.

“Dit was ’n wonderlike ervaring, veral as leerskool wat my vorming as bestuurder van ’n skool betref.”

Oor sy twee dekades by Witteberg kan Okkie nie uitgepraat raak nie.

“Dit was net genade. Ek is veral trots daarop dat ons akademies ons staal kan toon en by die héél bestes in die land kers kon vashou. Witteberg het vier keer in tien jaar die topmatrikulant in die Vrystaat opgelewer.”

Ná sy kortstondige aftrede het Okkie in 2013 as Fedsas se adjunkbestuurder in die Vrystaat ingeval. Hier het sy bewese bestuurservaring handig te pas gekom.

“Ek het na die belange van ongeveer 120 skole in die Oos- en Noord-Vrystaat omgesien. Ek sien hierdie skole en hul personeel steeds as ‘myne’ en ek het ongelooflike respek vir hoe hard skoolhoofde en onderwysers werk. My loopbaan by Fedsas was ’n verrykende lewenservaring.”

Watter raad het iemand met ’n leeftyd se ervaring in die onderwys?

“Ek kan nie genoeg benadruk hoe belangrik dit is dat elke skool se ouergemeenskap eienaarskap van die skool aanvaar nie. Ek glo elke gemeenskap het die skool wat hy verdien. Daarmee bedoel ek dat hoe meer die skool en gemeenskap as ’n eenheid funksioneer, hoe beter vir almal. Daar is nie ver­skonings nie – dit is vir alle skole moontlik, maak nie saak hoe groot of klein, ryk of arm nie.”

Fedsas se uitvoerende hoof, Paul Colditz, bevestig dat Okkie werklik hierdie waardes leef.

“Okkie is een van die mees geesdriftige mense waarmee ek ooit saamgewerk het. Skoolbestuur is sy passie en dit is vir hom veral belangrik dat skoolgemeenskappe verstaan dat alles nie in die staat se hande is nie. Almal het ’n bydrae om te lewer. Fedsas en veral onderwys in die Vrystaat is Okkie baie dank verskuldig.”

Nou, sê Okkie, soek hy nog sy ritme ná sy tweede aftrede.

“Ek is lief vir tuinmaak, foto­grafie, lees, musiek, reis . . . en ek sou ook graag weer aan ’n redelike gholfvoorgee wil werk.”

Tussendeur hou hy en Ria kontak met hul twee kinders, Helet en Ferdinand, in Amerika. Tuis hou Ria kontak met die onderwys deur ekstra klasse in rekeningkunde aan te bied – want mnr. en mev. Botha is onderwysers in murg en been, en dít is nie iets wat kan “aftree” nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.