Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ontwerper vir talent vereer

Min mense weet dat daar in 2019 sowat drie maande lank in Bethlehem klere gemaak en verstel, kralewerk gedoen en bybehore aanmekaargesit is vir ’n televisiereeks.

Oud-Bethlehemiet Nerine Pienaar, wat ’n garderobe-besigheid in Johannesburg het, beplan vooraf hoe die kostuums en bybehore vir nuwe flieks, televisiereekse of advertensies gaan lyk.

Nadat sy verlede jaar die opdrag gekry het om klere vir die tele­visiedramareeks Ifalakhe te ontwerp en maak, het sy na Bethlehem gekom om die klere by haar ouerhuis te maak.

Sarah Mathoa, wie sy geleer het om kralewerk te doen, het ’n span van ses mense gekry om die kralewerk te doen.

Daar was so baie werk dat haar pa, Hein Pienaar, ma, Willi, en selfs haar suster Monique Craus en dié se dogtertjie, Angie, hand bygesit het.

Daarby het Nerine nog ’n span van agt in Johannesburg gehad wat ook aan die projek gewerk het.

Nerine het Vrydagoggend (14/02) die SABC3-ateljee as ’n gas op die Expresso-program besoek.

Op dié program is die benoemings vir die verskillende afdelings van die Suid-Afrikaanse Film en Teleivisietoekennings (Safta) bekend gemaak.

Nerine en Monique Lamprecht is vir die beste kostuum­ontwerp in die reeks Iflalakhe benoem.

Die toekenningsgeleentheid vind op 27 Maart in Johannesburg plaas.

Haar ma, Monique en Sarah sal haar na die geleentheid vergesel.

Dit is nie die eerste keer dat Nerine vir ’n Safta-eerbewys benoem word nie – sy het dié eer reeds twee keer ontvang.

Die eerste was vir die fliek Pretville, en die tweede vir Leon Schuster se Mr Bones.

In 2013 was sy benoem vir die fliek Semi-soet, in 2016 vir Dis ek, Anna en in 2017 vir Dora’s Place.

Haar suster Jolandi Pienaar was saam met haar vir laasgenoemde benoem.

Sy het ook al ’n hele paar keer as beoordelaar vir die Safta-toekenningsgeleentheid opgetree.

Nerine het aanvanklik in haar ma se voetspore gevolg deur ’n klereontwerper te word.

Toe sy jare gelede in Engeland gewerk het, het sy met die rolprent- en televisiebedryf te doen gekry. Terug in Suid-Afrika het sy besluit om haar eie garderobe-besigheid te begin.

Dié het die afgelope paar jaar baie uitgebrei.

Haar ontwerpe word in verskillende vertrekke volgens tema uitgestal – daar is byvoorbeeld ’n kinder- vroue- en mans-afdeling, asook ’n uniform-afdeling. Verskeie Afrikalande se kleredrag kan ook hier aangetref word.

Elke kledingstuk word volgens grootte en kleur geberg, sodat agente en akteurs maklik kan kies en aanpas. Sommige kledingstukke moet verander word om by die betrokke tydperk van die fliek of televisiereeks te pas.

Soos die akteurs en die mense wat agter die skerms werk, ontvang Nerine ook die betrokke teks. Sy lees en bestudeer dit sodat sy haar beplanning kan doen – en dan begin die werk.

Sy sal vinnig vir jou kan sê die truitjie wat Anna in Dis ek, Anna gedra het, was haar ouma s’n, of dat die aktrise Simoné (Nortmann) Pretorius, wat onlangs die spreker by Hoërskool Voortrekker wa in die fliek Vir die voëls haar ma se trousluier gedra het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.