Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oorde pas aan

Die invloed van die staat van inperking op aftreeoorde en versorgingseenhede vra van dié instansies ekstra toewyding, harde werk en vindingrykheid.

Annemie Bosman, bestuurder van die Sonskyn-dienssentrum, sê die sentrum moes heelwat aanpassings maak, soos dat personeel skiktye werk.

Geen besoekers word by die sentrum toegelaat nie en inwoners mag slegs die perseel verlaat vir medisyne.

“Handreinigers is by die ingang, ontvangs en in die kombuis aangebring, asook duidelike tekens wat sê dat elkeen wat die perseel betree, hul hande moet was. Personeel se koors word elke dag gemeet, en alle personeel dra handskoene en maskers.”

Bosman sê AfriForum het handreinigers geskenk, en Bhm-plaagbeheer maskers.

Inwoners eet ook nie meer saam as ’n groep nie. Dit is sleg vir die inwoners, sê Bosman, maar só word die reël van sosiale afstand gehandhaaf.

Sy sê omgeegroepe van die NG gemeente Bethlehem-Oos sit hand by met die voorsiening van etes en skoonmaakmiddels.

“Dit is wonderlik om te weet daar is mense in die gemeenskap wat uitreik en ons hande sterker maak in hierdie moeilike tyd.”

Phania Lourens, bestuurder van die Residentia-aftreeoord in Panorama, Bethlehem, sê personeel bly op ’n sewe-dag-siklus in by die oord om moontlike blootstelling aan Covid-19 te beperk.

Sy sê twee ekstra personeellede is aangstel om inwoners in hul huis te ondersteun.

Residentia se kombuis voorsien steeds etes aan inwoners, en nou boonop vir personeel wat inbly.

“Versorgers gaan voort met hul normale pligte, maar stap ook die ekstra myl om verlange na families te verlig,” sê Lourens.

Sy sê Residentia kan nie genoeg dankie sê vir die gemeenskap se oop hand nie. Pick n Pay Mini­market help byvoorbeeld met die aankoop en aflewering van kruideniersware. Spesiale reëlings rondom die betaling van rekeninge is ook met die winkel getref.

“Ons hou rekord van onafhank­like inwoners se besoeke aan die dorp, sodat – indien daar positiewe gevalle sou wees – moontlike blootstelling akkuraat bepaal kan word. Die oord se hekke is gesluit om beter beheer te verseker.”

Sy sê inwoners help met die maak van beskermende maskers.

Rika Wolmarans, direkteur van bejaardesorg by die Engo-Bergprag-sentrum vir Bejaardes in Eureka, Bethlehem, sê gesondheidsorgwerkers word daagliks streng geëvalueer vir enige simptome van Covid-19 wanneer hulle die sentrum betree.

“Geen werker word in die sentrum toegelaat as hulle enige soortgelyke simptome van verkoue of griep toon nie.”

Indien ’n inwoner die dokter of die hospitaal in ’n noodgeval moet besoek, en die inwoner keer terug na Bergprag, word hy of sy vir ’n tydperk van 14 dae in self-isolasie geplaas en gemoniteer.

Volgens Wolmarans het Bergprag geldelike skenkings vir brandstof ontvang, aangesien die sentrum nou self personeel na die werk moet vervoer.

Winkels soos Pick n Pay, die Three Mountains-groentewinkel, die Ciglers-slaghuis, Sasko en apteke lewer voorraad by die sekuriteitshek af.

Sy sê DVD’s, CD’s en speletjies is uit die gemeenskap ontvang waarmee inwoners tyd kan verwyl.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.