Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Pa, man was steunpilaar

’n Geliefde pa, eggenoot en entrepreneur van Bethlehem se lewe word Saterdag (14/09) by die Bethlehem-Christensentrum gevier.

Hein Pienaar (71) is ná ’n lang siekte op Maandag 2 September in die Mediclinic Hoogland oorlede.

Emfiseem is meer as 12 jaar gelede by Hein gediagnoseer.

Hy is 19 dae voor sy dood weens vog op sy longe in die hospitaal opgeneem.

Volgens Monique Crause, sy jongste dogter, het sy organe ingegee.

Hy is Maandag omstreeks 05:15 dood.

Hein was ’n gesiene sakeman in die dorp.

Hy en sy vrou, Willi, is die eienaars van Pam Golding, waar hy verantwoordelik was vir die verkoop van plase en kommersiële eiendom, asook die opleiding van die agente.

Vroeër jare het die egpaar Bernina in Bethlehem besit.

Hy was ook een van die stigters van Radio Maluti.

Volgens Willi is die mooiste eienskap wat sy by haar man geleer het, om haar werk altyd eerlik te doen.

“Hy het my geleer dat kliënte my moet kan vertrou,” het Willi gesê. Dié egpaar was 49 jaar getroud.

“Hy was my rots en my klankbord. Hy het my altyd aangemoedig om net my beste te gee.”

Hul drie dogters, Monique, Nerine Pienaar en Jolandi Pienaar, het talle vaardighede by hul pa geleer.

Vandag is hulle dankbaar dat hulle by hom kon leer om vir hulself op te staan en onafhanklik te wees.

“Ons is seker die enigste drie dogters wat elkeen ’n gereedskapkis het,” het Monique gesê.

Hy het hulle geleer hoe om pype reg te maak, met ’n hamer te slaan, lekplekke in die dak reg te maak en bande om te ruil.

“My pa wou seker maak ons sukkel nie.”

Volgens Jolandi het hul pa hulle geleer om hul emosies te waardeer en te wys.

“Ons het by hom geleer dat ’n mens maar mag huil – of dit nou oor iets moois of slegs is.”

By Hein het hulle geleer hoe om ’n suksesvolle onderneming te bestuur.

“Hy het altyd vir ons gesê niks val in jou skoot nie. Jy moet ’n doelwit stel en werk om dit te bereik,” het Monique gesê.

Die dogters sal hul pa as ’n regte grapkas onthou.

“Ons het ons sosiale vaardighede, en hoe om mense te vermaak, by hom geleer,” het Jolandi gesê.

Op ’n Saterdag het hy altyd die vleisbraaivuur aangesteek, rugby gekyk en musiek met ’n lekker ritme aangesit.

Hein het as ’n mentor vir talle jong mense opgetree.

Angelique Crause (4), sy enigste kleindogter, was sy hart se punt.

Vir Thabo Makhoa, hul huishulp, Sarah Makhoa, se seun, was Hein soos ’n pa.

“My pa het nie een rugbywedstryd gemis as Thabo in Bethlehem gespeel het nie. Ons het langs die veld gestaan en ons longe uitgeskree,” het Monique gesê.

“My pa het ons geleer om elke dag te lag, gelukkig te wees en alles te waardeer.”

Hein was die jongste van drie kinders.

Sy suster, Elma Bester, en broer, Es Pienaar, is reeds oorlede.

  • Pienaar se troosdiens word Saterdag (14/09) om 11:00 in die Bethlehem-Christensentrum op die Preekstoelpad gehou.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.