Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Raad aan vroue verfrissend

Vroue oor verskeie geslagte, uitgevat in sagte skakerings van pienk en wit, is Saterdag (02/02) geïnspireer om stroomop te swem, teen die wêreld se onrealistiese verwagtinge, en om die avontuur van vrouwees elke dag te vier.

Donnalee Roberts het as hoofspreker op die Poedingtafel-geleentheid van die Hoërskool Voortrekker opgetree, met hartstories wat vroue inspireer om anders na hulself en vrouwees te kyk. Ivan Botha, die gasheer van die dag, het saam ’n glasie sjampanje op vroue geklink.

Dié akteurs wil deur middel van die fliek Stroomop vroue aanmoedig om nie eenvoudig saam met die vloei van die lewe te beweeg nie en die heldin in hul eie stories te wees.

In Stroomop ontmoet kykers vyf vroue wat almal in hul eie realiteite verdrink. In ’n desperate poging om genesing te vind, bevind die vroue hulleself op die Oranjerivier op avontuurterapie, voorgeskryf deur ’n selfhelpgroep. Die gids en die vroue word van die roeiboot afgegooi en in die stroom rondgemaal. Die gids spoel weg en die vroue word aan hulself oorgelaat om in die genadelose wildernis te oorleef.

“Dis maklik om saam met die vloei te gaan. Dan gaan jy nie golwe maak nie en ook nie uitstaan nie. Mense gaan nie sien waar jy tekortkominge het en nie goed genoeg is nie,” het Donnalee gesê.

Sy meen dit maak nie van jou ’n moeilike mens om stroomop te swem nie.

“Dit maak jou braaf en help jou ontdek wie die Here jou gemaak het om te wees.”

Met die verfilming was hulle deel van ’n span van 60 mense wat vier weke lank ’n kampwêreld langs die Oranjerivier gebou het.

“Daar was niks nie – geen selfoonsein, geen akkommodasie en geen toiletgeriewe.”

Die span moes daagliks verskeie fisieke uitdagings trotseer sodat die fliek kon realiseer, soos om toerusting oor rotsgebergtes te dra waar voertuie nie kon ry nie.

Op ’n Sondag het die hele span gerus. Met haar voete in die water en die son op haar vel het Donnalee besef dat sy elke oomblik van haar lewe moet inneem.

“Wat as ons onsself kan leer om net te fokus op die hier en die nou? Om elke slukkie koffie werklik te proe, en om elke sonsondergang werklik te ervaar?”

Sy het vroue aangemoedig om mekaar te komplimenteer.

Die uitdaging wat sy aan almal gestel het, was om die vrou te wees wat die energie in ’n vertrek verander die oomblik wanneer sy bereid is om die goud uit ander te roep.

Sy pleit by vroue om pens en pootjies in die rivier van die lewe te spring en teen die stroom van wêreldse verwagtinge te swem.

“Dan eers mooiste, mooiste vrou, gaan jy waarlik in jou eie oomblikke wees en ontdek wat God oor jou gedroom het, wat jou uniek maak en van binne laat straal.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.