Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Restaurant laat wiel

Weens die aangepaste vlak 4-inperkings­maatreëls is restaurant-eienaars genoodsaak om vindingryk te dink.

Só sê Paula en Chris du Toit, eienaars van die Roadside Diner-restaurant in Bethlehem.

“Ons het besluit ons gaan beslis nie weer, soos verlede jaar, met ons broek op ons knieë gevang word nie.”

In die gees hiervan het hulle besluit om elke klant in sy motor te bedien.

Die restaurant was sewe maande oop voordat besigheid hier verlede jaar deur die eerste inperking gekniehalter is. Restaurante mag glad nie op vlak 5 van die inperking handel gedryf het nie, en kon eers weer op vlak 4 wegneemetes verkoop.

“Op vlak 4 verlede jaar het ons baie hard gewerk om die besigheid met die verkoop van wegneemetes weer op dreef te kry. Dit was uitdagende tye om al ons koste te dek en personeel te betaal.

“Skaars ’n jaar later moes ons weer die restaurantdeure sluit en net wegneemetes verkoop.”

Chris sê hy het dadelik skeppend begin dink om te verseker dat die personeel werk het en in dié tydperk ’n inkomste kan verdien.

Hy het skinkborde gemaak wat aan ’n motorruit kan haak, sodat hul klante in die gerief en veiligheid van hul eie motor hul gunsteling-etes van die restaurant kan geniet. Op die perseel is ook drie losstaande, oop voertuie waarin klante kan eet.

Die personeel werk skofte sodat almal nie gelyktydig aan diens is nie, en Covid-19-regulasies word streng gevolg.

Die “gereg van die dag” word daagliks op die sosiale media bekend gemaak sodat klante kan weet wat om te verwag.

Suid-Afrika is sedert 28 Junie op ’n aangepaste vlak 4 van die nasionale inperking weens die Covid-19-pandemie. Dit sou aanvanklik net twee weke duur, maar is Sondag (11/07) deur pres. Cyril Ramaphosa vir nog twee weke, tot 25 Julie, verleng.

Hoewel restaurante nou weer mag oopmaak, word slegs 50 mense op ’n slag toegelaat. ’n Afstand van 1,5 m moet ook te alle tye gehandhaaf word. Geen alkohol mag bedien word nie, en restaurante moet reeds om 20:00 sluit.

  • Stoffel Trollip, eienaar van die Plumbago-koffiewinkel in Kroonstad, sê hy is baie verlig dat hulle weer klante mag ontvang.

“Met die vorige twee weke se vlak 4-inperking het ons besluit om die restaurant te sluit,” sê hy.

“Verlede jaar het ons te veel verliese gelei. Baie druk is op ons bedryf geplaas.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.