Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ryers tem taaiste skof ter wêreld

Talle Oos-Vrystaters het deur die ongerepte veld van die Baviaanskloof ’n hele 230 km ver oor berg en dal fiets getrap in die langste, ononderbroke bergfiets-marathon ter wêreld.

Dié fietsryers het van Saterdag 17 Augustus tot Sondag 18 Augustus aan die Trans-Baviaans Repeat deelgeneem, maar dit was nie sonder uitdagings nie.

Hulle het langer as 16 ure fiets gery deur moddergate, oor klippe, beenbreek-opdraandes en afdraandes.

Maar die belangrikste van alles was die kameraderie.

Johan Mynhardt van Bethlehem, een van die deelnemers, sê die spanne was die Saterdag om 08:30 aangetree by Willowmore se stadsaal.

Dit was die wegspringpunt met die eindpunt 230 km verder by die Fountains Mall in Jeffreysbaai.

Mynhardt het saam met Braam van Straten van Bethlehem en Johan van Staden van Vereniging in ’n span gery.

Nog Bethlehemiete wat aan die wedren deelgeneem het is Hendrik Kemp, Thomas Kemp, Francois Koekemoer, Eben Bakker, Dan Jacobs, Sakkie Nel, Carel Pretorius, Tanya van Niekerk, Gary Goldman, Derrick Stander, Stephan de Groot, Bernard Niemand, Deon Schoeman, Barry Horvath, Samantha Kriel, Pierre Trytsman, Rudolph van Heerden, De Wet van Aswegen, Wilco van Heerden, Righard Prinsloo en Werner Schutze.

Andries Wessels van Potchefstroom het hom ook by die Bethlehemiete aangesluit.

“Die advertensievlaggies het styf gestaan in die wind in die teenoorgestelde rigting waarheen ons moet ry. Teen 10:00 het die wiele begin sing,” vertel Mynhardt.

So ’n paar kilometer uit Willowmore vat fietsryers die Baviaanskloof-afdraai en dan klim die roete stelselmatig oor ’n afstand van sowat 26 km tot bo by die Nuwekloofpas (sowat 1 000m bo seevlak).

Hy vertel hoe almal agter iemand probeer wegkruip het vir die eerste sowat 20 km se oostewind van voor.

Mynhardt moes by die tweede beheerpunt al ’n werktuigkundige vra om na sy fiets se ratte om te sien, maar dit was vergeefs. ’n Belangrike onderdeel het gekraak. ’n Uur later het die ander Bethlehem-span opgedaag en ’n ekstra een gehad.

Met koue bene het hulle weer begin trap tot by Baviaans Back, waar Mynhardt weer nie die ligste rat kon kry nie.

“Ek moes ’n sterker rat as gewoonlik gebruik wat meer energie verbrand,” sê Mynhardt.

“Dis toe ek besef het dat die dag en nag gaan lank raak met die twee slagtande en die Big Mac (moeder van alle klimme) wat voorlê.

Ná die derde beheerpunt, Geelhoutbos, begin die roete stelselmatig meer uitdagend raak.

’n Kort afstand later het Mynhardt se fiets weer probleme gegee met die ketting wat in die ratte vasgehaak het.

Hy het toe só stadig teen die bult gevorder tot by die hoogste punt by Bergplaas dat sy spanmaats reeds 30 minute gewag het sodat hulle saam deur die volgende beheerpunt kon gaan.

Daar het hulle warm klere aangetrek, sop en brood geëet, en het hul gemoedere weer gelig.

“Ek het vir my span gesê hulle moet my los. Ek sal wag vir die ander Bethlehem-span om saam met hulle klaar te maak. Maar hulle het gesê ons het begin as ’n span en sal klaarmaak as ’n span.”

Van daar is dit weer steil afdraandes tot in die Cambria-vallei verby sitrusplase langs die rivierbanke van die Grootriver.

Van Komdomo volg die roete die pad na Patensie, waar hulle broodrolletjies en skyfies kon eet “wat vir hulle nog nooit so lekker geproe het nie”.

Die Sondag teen 01:30 het hulle die Never Ender van 60 km aangedurf. Dit is onder meer ’n geleidelike klim van 12 km wat nogal uitmergelend is, sê Mynhardt.

Met die laaste 27 km in sig, het die Mini Mac, ’n styl opdraand van 800 m, nog voorgelê. “Stoot was toe weer my voorland,” sê Mynhardt.

Met Jeffreysbaai se liggies wat wink, het die span teen ’n stywe pas begin ry en die ander fietsryers verbygesteek.

Die Sondag teen 03:00 moes die fietsryers konsentreer op ’n enkelspoor langs die treinspoor, en bruggies wat bo-oor lyndraad loop.

Om 03:45 het die span die eindstreep bereik by die Fountains Mall. Net om te besef hulle moet nog 7 km ry tot by hul huurhuis op die strand.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.