Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Senekal se storie groei tot ’n reeks

Die rolprentmaker en oud-Vrystater Frans Cronjé het verlede jaar saam met talle ander Suid-Afrikaners die nuus oor die moord op die 21-jarige Brendin Horner van Senekal gevolg. Gemoedere in dié Vrystaatse dorp het vinnig kookpunt bereik.

Lank ná die gebeure het Senekal in Cronjé se kop bly maal. Een oggend het hy wakker geword met ’n dringendheid om iets vir hierdie dorp te doen. Hy het voor sy rekenaar ingeskuif en aan ’n fiktiewe TV-reeks begin skryf wat hier afspeel.

Dit is ’n aksieverhaal wat by die ware gebeure rakende Horner se moord inskakel, en begin tydens die spanningsvolle protesoptogte gedurende die hofverskyning van die verdagtes.

“Ek het daardie oggend net besef Senekal is die ideale plek om ’n verskil te maak, en ek het onmiddellik gedink aan ’n storie wat in Senekal verfilm kan word,” vertel Cronjé.

Hoewel hy nog op finansiering wag en nie te veel wil verklap nie, glo hy dat dit ’n inspirerende reeks sal wees.

“Dit is ’n reeks wat wit en swart bymekaar sal bring, maar dit is meer as net dit; dit pak baie Suid-Afrikaanse kwessies aan. Die storie handel oor ’n jong swart man en ’n jong wit man wat teen mekaar oorlog verklaar, maar vinnig agterkom dit is tot albei se voordeel om eerder saam te werk.”

Cronjé sê toe hy ’n paar maande gelede die dorp besoek het om met belang­hebbendes te vergader het hy ’n baie goeie gevoel van die dorp gekry. Hy het ook geleer van die nuutgestigte Senekal-Matwabeng-gemeenskapsforum waar wit en swart saamwerk om die dorp te verbeter.

“Ná my tyd hier het ek geweet ek wil nie net ’n fliek of ’n reeks maak en dan weer ry nie – ek wil graag ’n verskil maak. Ek wil by ’n soort gemeenskapstransformasie betrokke wees.”

Dit het gelei tot sy uiteindelike plan om ’n hele rolprentbedryf in dié dorp te vestig. Hy het besluit om eers ’n reeks van sewe episodes hier te verfilm, en daarna ’n rolprent/reeks-projek wat in Rome in die vierde eeu afspeel.

“Natuurlik kan ek dit in die Kaap maak waar ek nou al 20 jaar lank woon en flieks maak, maar ek het net begin voel ek wil hierdie een reeks/rolprent wat in Rome afspeel – ’n ware gladiator-verhaal – in Senekal verfilm. As ek dit platteland toe vat, kan dit verskriklik baie met werkskepping help. Die platteland sukkel, veral in die binneland.”

Cronjé het sowat twee weke gelede sy motor gepak en sy intrek in Senekal geneem. Sy plan is om mense op te lei om in die rolprentbedryf te werk en ’n bedryf te vestig wat selfs ná sy twee projekte genoeg volhoubare werk kan skep.

“Die eerste stap is nou om finansiering vir die projekte te kry. Dan sal ’n mens ’n talentopname in die dorp moet maak om te sien wie vir watter take aangewend kan word. Sodra dit afgehandel is, sal die opleiding begin,” sê hy.

“My idee is om die mense so goed op te lei dat hulle binne ’n paar jaar goed genoeg sal wees om op Hollywood-stelle te werk.”

Hy beplan ook om die antieke Rome buite Senekal te bou, kompleet met ’n colosseum en Caesar se paleis.

Hy meen die stelle kan weer in die toekoms vir ander rolprente aangewend word. Só word ’n struktuur geskep wat deur rolprentmakers van oor die wêreld heen gebruik kan word.

Hy sê om dit natuurlik te kan doen, moet die dorp se infrastruktuur reg wees. Dit is hoekom hy reeds met die gemeenskapsforum en ander beleggers in die dorp saamwerk.

Vir Cronjé is daar egter ook ’n dringendheid om met die eerste projek te begin.

“Die Vrystaat het nog nooit so mooi gelyk soos dit nou lyk nie, so ek wil begin verfilm voordat die winter die landskap verander. Ek wil dit so gou moontlik aan die gang kry.”

As alles goed gaan, sal hy in April die eerste reeks begin verfilm.

Hy reken sy projek sal ’n sukses wees.

“Die vorige keer dat ek so seker oor ’n saak was, was voor Faith Like Pota­toes (Cronjé se biografiese prent wat op die gelyknamige boek van Angus Buchan gegrond is). Dit was in 2006. My voorspelling is dat wat in Senekal gebeur, binnekort ’n model vir baie klein dorpies in ons land sal raak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.