Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sentrum bied meer aan pasiënte

Ná 13 jaar se harde werk spog die Northern Free State Caregivers (NFSCG) met ’n splinternuwe onkologiesentrum in die Naudé-saal in Truterstraat, Kroonheuwel, Kroonstad.

Dié sentrum is tydens ’n glansryke geleentheid op Donderdag 1 Oktober geopen.

“Ons staan opreg dankbaar teenoor die Kroonstad-gemeenskap, besighede en individue,” sê Felicity Combrinck, voorsitter van die NFSCG.

“Dit is danksy hulle dat die sentrum moontlik gemaak is, en ons waardeer hul volgehoue ondersteuning.”

Die organisasie kon vroeër vanjaar die Naudé-saal by die NG kerk Kroonheuwel-Noord koop, en die nodige opknappingswerk is gedoen om die saal as mediese sentrum in te rig.

Die sentrum is nou ook rolstoelvriendelik.

Ds. Christo Weideman van die NG kerk Kroonheuwel-Noord het die opening behartig, en gesê hy glo dat die Here op ’n vreemde manier die plek in bewaring gehou het vir die regte mense om dit op die regte tyd te koop.

Combrinck het die NFSCG op 1 April 2007 gestig om pasiënte met terminale kanker te versorg.

Die organisasie lewer nou 24-uur-tuisversorging aan pasiënte.

“Die wag vir die sentrum was die moeite werd. Nie net sal ons kankerpasiënte kan help nie, maar pasiënte sal berading en sterwensbegeleiding ontvang en met ’n ondersteuningsgroep verbind word,” sê Combrinck.

Die sentrum het ’n babakliniek, waar sr. Jorietha Heymans na ma’s en babas kan omsien, en Anna-Mart Wait, ’n berader, lewer ook beradingsdienste.

Volgens Combrinck hoef kankerpasiënte nie meer vir behandeling na ander dorpe of stede te reis nie. Hulle kan nou in die gemak van die nuwe sentrum hul chemoterapie ontvang.

Pasiënte met terminale kanker in Kroonstad, Maokeng en Brentpark sal steeds tuisversorging ontvang.

Skenkings word vir die mediese sentrum se tweede fase benodig om nog vier spreekkamers in te rig.

Volgens Artikel 18A is skenkings van belasting aftrekbaar.

Bel Combrink by 084-206-8912 vir meer inligting of om by die projek betrokke te raak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.