Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Seuns slyp vaardighede

Die Rapportryerskorps in Bethlehem het seuns van die Charlotte Theron-kinderhuis in Oktober op ’n uitstappie geneem om Christelike waardes en hul identiteit van Afrikanerskap op ’n genotvolle manier te bevestig.

Dié geleentheid van die Ouboetprojek het op die Geloftefees­terrein met tradi­sionele boeresport begin.

’n Jukskei-kompetisie was eerste aan die beurt. Die tegnieke en reëls van jukskei, asook die geskiedenis daarvan, is aan die kinders oorgedra.

Daarna het hulle na teikens kettie geskiet en slingervel gegooi. Die maak en herstel van ketties is ook aan hulle gedemonstreer en hulle het dit daarna beoefen.

Hoenderhaanskop was volgende aan die beurt. Die kinders moes probeer om die oorhand oor hul teenstanders te kry deur hulle van balans af te kry. Party was meer suksesvol as ander.

Hulle moes ook metaalringe na ’n paal gooi.

Die seuns is daarna die veld in gestuur met die opdrag om vere van verskillende voëls en voorbeelde van veldblomme terug te bring.

Die aand se verrigtinge het ten doel gehad om hul kosmaak­vaardighede, Bybelkennis en vermoë om in die donker rigting te hou te verbeter.

Hulle het ’n groot vuur gemaak en stokbrood gemaak.

Voor ete is huisgodsdiens gehou en bybelse gedagtes is aan hulle voorgehou.

Ná ete is ’n nagstap-uitdaging uitgevoer waardeur hulle vooraf uitgesette voorwerpe moes vind en terugbring.

Die volgende dag is hulle na die nabygeleë wildsplaas van Gary Miller geneem.

Daar moes hulle leer om aktiwiteite wat aan hulle gedemonstreer is so goed as moontlik na te doen en veiligheidsmaatreëls na te kom.

Aktiwiteite soos kleilatgooi, swem in die dam, kettieskiet, slingervelgooi, windbuksskiet en die besoek aan die skietbaan op die plaas waar elkeen ’n skoot met ’n .22 geweer kon skiet, het daar plaasgevind.

Deurentyd is aspekte soos konsentrasie, oplettendheid, fyn luister en in die gedagtes oefen wat gesê is, onder hul aandag gebring.

Hennie Venter van die Rapportryers het hulle touwys gemaak met die hantering van die eetgerei tydens ’n meergang-maaltyd.

Die afsluiting het ’n terugblik oor die program met die kinders behels en belangrike aspekte van die lewe is weer onder hul aandag gebring.

Die kinders het die kieries, ketties en slingervelle as aan­denkings saamgeneem huistoe. Elke seun het ook ’n sertifikaat ontvang.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.