Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Simmetriese prag steel harte

Die heldergroen, groot en leerblink rosette met hul styfgepakte lepelblare in perfekte simmetrie van Aeonium arboreum het my hart totaal gesteel.

Toeka, toe ons nog nie so bewus was van waterbesparende tuinmaak nie, was aeoniums en selfs baie ander vetplante nie so vrylik in kwekerye beskikbaar nie. Hulle het maar meestal in die rotstuine van ons oumas en ander tantes gegroei en steggies is maar so onderlangs gedeel.

Die steggie wat ek bekom het, het ek suutjies gegaps in ’n kerk se tuin (hoop ek word vergewe).

Nog ’n ding wat my gefassineer het van hierdie plant, is die feit dat dit in ’n vettige plaat van reuse-rosette in die skaduwee van groot akkerbome gegroei het in ’n beddinkie wat opgebou is met klippe wat nogal aan ’n graf herinner het. Vetplant in die skaduwee?

Aeonium-spesies is inheems in die Kanariese Eilande en ook Midde-Afrika. Die Engelse volksnaam is houseleek tree, wat ’n aanduiding is dat dié plante nogal groot word en redelik vertak.

Dit is met die jare gekruis en geselekteer sodat ons vandag toegang het tot ’n paar pragtige hibriede, onder meer Aeonium arboreum “Zwartkop” met sy amper swart blarerosette aan die eindpunte van kaal slangagtige stingels. Hierdie is ook ’n gawe en baie dramatiese huisplant vir ’n plek met baie helder lig.

Dan is daar ook Aeonium decorum “Sunburst”, wat bleekgeel, wit en groen strepe het, soms met sagte pienk randjies. Aeonium arboreum “Atropurpureum” is weer ’n robuuste veel vertakte groeier met kleiner rosette diggepak met maroen blare en heldergroen senters.

Onlangs kon ek nog ’n aeonium by my versameling voeg naamlik dwerg-aeonium (Aeonium sedifolium), wat baie soos ’n klein bonsaiboompie lyk. Dit vertak geil met piepklein perfekte rosetjies aan die punte.

Blom hulle?

Aeoniums blom wel, maar dis nie te sê dit gaan noodwendig elke jaar uit elke roset gebeur nie. Soms word ’n mens wel in die laatwinter tot lente verras met ’n lang blomsteel of twee met ’n piramidale rits geel blommetjies.

Kweekgebooie

Plantplek: Hierdie vetplante wil nie in die warmste deel van die tuin groei nie; trouens, hulle sal in die namiddag ligte skaduwee waardeer. Te diep skaduwee sal egter dié met die donker of helder blaarkleure laat verbleek tot groen.

Grond: Tuinplante moet goed dreinerende grond kry wat met kompos en beenmeel verryk is. Vir plante in potte, gebruik ’n goeiegehalte- algemene potgrond of spesiaal vermengde vetplantpotgrond wat by kwekerye te kry is.

Water: Aeoniums is nie kamele nie en hou van gereelde water, al sal hulle wel oorleef as jy die kraan moet toedraai. Plante in potte moet immer klammerig gehou word. As hulle te veel uitdroog, val die blare af.

Goed om te weet

  • Omdat aeoniums sulke dramatiese plante is, lyk hulle baie goed in die tuin saam met sagte ornamentele grasse as tekstuurkontras.
  • Gebruik die sytakke met rosette van “Zwartkop” in blommekuns vir ’n treffende indruk.
  • Wanneer ’n plant begin slordig lyk, benerig raak en nie goed vertak nie, sny bloot al die koppe af en bewortel hulle met kort steeltjies aan in growwe, klam riviersand. Die moederplant sal gou weer uitloopsels maak en ewe gaaf groei. – Anna Celliers, Leefstyl24
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.