Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skep mengelmoes van herinneringe

So nou en dan kom fragmente van ons gesin en familie vir ’n naweek saam op die plaas. Dit maak nie saak wie daag op nie; die groep is altyd volledig. Wie daar moet wees, sal daar wees. maak nie saak wie kan kom of nie kan kom nie.

Daar word nooit werklik vooraf slaapplek bespreek nie, en my suster en swaer kry eenvoudig enige oorloopmense as inslaapgaste. Vir die oorlopendes en plaasslapendes is die gemene deler wanneer daar saam geëet word.

’n Reën-onderbroke braai skuif eenvoudig die stoor in, en alle ander kosreëlings vind op chaotiese geordende wyse plaas; met Ouma Rose watal jare lank, elke keer as daar kos gemaak word, van die arbeidershuise af oorstap om haar legendariese krummelpap te maak, as die rugsteunplan indien etereëlings dalk sou ontspoor. Sover ek weet, het dit nog nooit gebeur nie.

Die plaashuis is al oud. Die rondawel huisves dan en wan ’n rot, en die stoor is stowwerig, maar vol stories.

’n Besoeker het eenkeer verduidelik dat ons die huis nooit moet herbou indien iemand in die familie skielik geseën word met ’n onverwagse skip wat inkom nie.

“Die huis is ’n laslappiekombers van stories: Elke aanbouing wys deur muurkrake, boustyl en boumateriaal. Dis ’n familiegeskiedenis in steen en sinkplaat.”

En so keer ons keer op keer terug met die kronkelende plaaspad na ons kinderdae. Aangetroude familie het al só deel van die storie geword dat enige buitestaander sal dink dat die hele spulletjie hier grootgeword het. Gespreksgenote sirkuleer gemaklik, en soms verdwyn iemand om iewers ’n uiltjie te gaan knip, spruit toe te stap, of net die stilte te geniet.

Tussen alles deur is daar eetgerei uit die dae toe Ma en Pa nog geleef het, drupsgewys aangevul uit oorskietbekers en opskietborde wat hul weg na ons ander bestaan – die lewe anderkant die plaas – vind. In die huis is ou en afvalstoele en banke, ook uitskotte uit opgraderings van ons dorps- en stadslewe.

In hierdie mengelmoes van eetgerei, linne en huisraad ontbreek die luukse van dinge wat pas; maar dis juis die feit dat niks pas nie wat maak dat ’n mens tuis voel.

Soms, net soms, het elkeen van ons nodig om die pas te makeer, tyd deur te bring in ’n hawe waar dit heel gepas is as niks pas nie, en te besef dat jou skip dalk lankal reeds ingekom het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.