Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Smous sal soekend bly

Die storiesmous het sy storiewa langs die dorpie parkeer.

Soos storiesmouse maak, het hy eers na die omgewing gekyk. Die omgewing verraai gewoonlik wenke ten opsigte van die aard van die karakters.

Die storiesmous het sy watent toegerits en die dorpie binne­gestap. Op soek na ’n storie.

Wat hom opgeval het, was dat die huise nie soos gemmerbroodhuisies lyk nie. Om die waarheid te sê, het hy besef dat baie min van die huise agter die hoë mure en tralie­heinings sigbaar was.

Aan die buitewyke van die dorpie het plastieksakke soos pap ballonne aan doringdraadheinings gehang. Kleurryke, halfgestrykte vullisvlae wat getuig dat die karakters nie meer omgee nie.

Die skraal seun se hare was kortgeknip. Deur sy skoenoorblyfsels het sy tone langnael geloer. Hy het oor sy olierige T-hemp gevryf. Dan sy hande bak gehou. Die storiesmous was gereed vir ’n transaksie.

“Vertel my van jouself. Waar kom jy vandaan? Wat gaan jy doen met die geld wat jy hier verdien?”

Die seun het moeilik gepraat. Sy pa was al jare weg. Sy ma was lank siek. En nou is dit hy en sy sussie en hul ouerlose sinkplaathuis. Die daaglikse bedel om genoeg te kry om van te leef. En môre nog meer van dieselfde.

Die storiesmous wou meer hê. Dit was nie ’n nuwe storie nie; dit het geen storielyn gehad nie. Dit was te alledaags, te veel gesien en oorvertel. Uit sy ervaring het hy geweet storie-kliënte soek na iets waarmee hulle kan identifiseer, ’n held wat vir iets baklei, ’n protagonis wat die wêreld verander, ’n wenner teen alle verwagtinge in.

Hy het omgedraai en teruggestap. Die plastieksakvlae het raserig in die wind bly wapper.

By die wa het hy sy vulpen en notaboekie uitgehaal. Die pen het vet en maer strepe gemaak terwyl hy skryf: “Sonder hoop is daar nie meer stories nie.”

Hy het die sin doodgetrek. Weer probeer: “Sonder stories is daar nie meer hoop nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.