Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Span jou kabel hoog

Philippe Petit is ’n interessante karakter. In die 1970’s het hy ’n kabel tussen die twee torings van die World Trade Centre in New York gespan en sonder ’n vangnet van die een na die ander gestap. Toe die polisie hom in hegtenis neem en vra waarom hy dit gedoen het, kon hy bloot wonder: “Waarom nie?”

Petit is iemand wat die grense voortdurend beproef. Soms deur sy balanseertoertjies, waarmee hy gereeld mense verstom én soms met die gereg bots. Ander kere deur sy toorkunsies en spontane mimiekkuns in openbare plekke.

Hy is een keer, ná afloop van ’n lang en gevaarlike ent se loop op ’n kabel, gevra of hy dankbaar was om weer op die grond te wees – waarop hy geantwoord het dat dit vir hom goed was, maar dat hy graag nog op die kabel sou wou wees. Dit is waar hy tuis voel.

Mense soos Petit, asook berg­klimmers wat bykans onbereikbare pieke aandurf, grotduikers, renjaers en ander adrenalienverslaafdes, verstom my in hul behoefte daaraan om hul avonture op die grens tussen lewe en dood aan te durf. Kan ’n “roeping” werklik so sterk wees dat dit jou noop om keer op keer jou lewe op die spel te plaas?

Dan is daar mense wat lewe, maar nooit lewe nie. Hulle verdwaal tussen televisiekanale en niksseggende algemeenhede. Vasgevang in hul kokonne van verwagtinge glo hulle dat iets gaan verander. Iemand moet net iets doen. Net nie hulle nie. En hulle wag. En wag.

Maar merendeels is ons tussen hierdie uiterstes, met die lewe wat uitspeel terwyl ons voortloop op die kabel wat ons neem van die toring van jeug na die toring van ouderdom. Sou ’n mens bevoorreg genoeg wees om op jou oudag terug te kyk na die kabel waarop jou lewe balanseer het, sal dit wees met die wonderlike wete dat ’n mens elke treetjie waardeer het?

Met elke sonsopkoms gee ons ’n tree. Tree vir tree beweeg ons aan en hopelik is ons eie lewe, mense, drome, gedagtes en omgewing die plek waar ons tuis voel. Maar nie so tuis dat ons ophou aspireer na hoër kabels en groter uitdagings nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.