Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Spekboom ’n veelsydige vasbyter

Die ysigste klimaat waarin swartryp toeslaan en sneeu die grond in die winter met ’n yslaag bedek, kenmerk omtrent die enigste plekke in Suid-Afrika waar ’n mens nie ’n spekboom (Portulacaria afra) in ’n tuin sal kan plant nie.

Selfs dan het jy nog nie ’n verskoning om nie ál die gawes van hierdie inheemse vetplant te geniet nie, want dit sal heel gewillig in ’n pot op ’n beskutte plek groei en selfs ’n hele tydjie binnenshuis uithou in goeie lig, soos waar sonlig deur ’n venster skyn.

Die spekboom, wat ook as olifantskos (elephant’s foot) bekend staan, is inheems in hoofsaaklik die oostelike somer­reënstreke waar dit voorkom aan droë, klipperige heuwelhange van die Oos-Kaap, deur KwaZulu-Natal, Swaziland en Mpumalanga, tot in Limpopo. Dit word ook in die Klein-Karoo in die Wes-Kaap aangetref.

In ’n natuurlike habitat kan die spekboom tot 4 m hoog word, maar gekweekte plante is gewoonlik veel kleiner. Dit het ronde of ovaalvormige lemmetjiegroen tot donkergroen vlesige blaartjies en rooierige of grys stingels met blink bas wat mettertyd kurkagtig raak.

Blom dié plant?

Die digte trosse klein, pienk, stervormige blommetjies verskyn teen die einde van die winter en die plant is in volle blom in die lente en vroegsomer. Dán is dit feestyd vir heuningbye, skoen­lappers en ander nektarsoekers.

Die verskillende kultivars van die spekboom wat ook goudgeel of bont blare het, grondbedekkers insluit, en kommersieel vir die tuinbedryf gekweek word, blom selde. Dit is egter nie ’n probleem nie, aangesien hul gewildheid lê in hul kompakte en spreidende groeiwyses en pragtige loofkleur wat hulle heeljaar aantreklik maak in houers of in die tuin.

Toegevoegde waarde

Diere soos skilpaaie, wildsbokke, vee en olifante vreet graag heeljaar aan die blare.

Hoewel dit ’n suur smaak het, is die rou blare ook vir die mens voedsaam en eetbaar, en het dit deesdae hoogmode geword om die blare by slaaie te voeg.

Dit les die dors en help teen sonsteek en ontwatering wanneer dit gesuig word. Daarby het die blaarsap talle medisinale gebruike, soos om seerkeel te verlig wanneer dit gekou word, of om insekbyte, uitslag en sonbrand te behandel.

Die grootste waarde van die spekboom is egter sy uitstekende vermoë om koolstof te berg en dit in suurstof om te sit. Jy kan dus jou bydrae tot skoner en gesonder lug lewer deur sommer heelwat hiervan te plant.

Kweekgebooie

Spekbome hou van warm, sonnige plekke en sanderige, skraal grond, maar sal ook in ligte skadu groei.

Om welige plante te kweek, word wel aanbeveel dat die grond met goeie kompos en ’n voeding met orga­niese misstof in die somermaande verryk word. Moet net nie te veel water gee nie, aangesien dit tot wortelvrot lei.

Die plante kan wel ligte ryp verdra en kan enige tyd van die jaar in die tuin uitgeplant word.

Wanneer hulle eers gevestig is, is hulle langlewend en baie waterslim, en word selde deur plae en siektes gepla.

Spekbome is perfek vir winderige kustuine ook.

Dit is maklik om meer plante van steggies te kweek in die lente. Laat die gesnyde steggies se oppervlakke ’n paar dae uitdroog voordat dit direk in oop grond of in ’n kissie met riviersand geplant word.

Plantplanne met spekbome

Gewone spekbome is uiters veelsydig.

Hulle kan in ’n rotstuin of in potte as enkelstruike gebruik word en bloot toelaat word om hul natuurlike groeiwyse uit te leef. Hulle kan egter ook formeel gesnoei word in die vorm van lae heinings, skerms en siersnoeivorms. Bonsaikwekers gebruik baie graag die spekboom.

Daar is talle spekboom­kultivars met opvallende groeivorms:

  • is ’n vinnig groeiende grondbedekker met ’n kruipende of hangende groei­wyse en is veral nuttig om grond te stabiliseer, met ’n wydte van 1 m tot 2 m. Dit is uiters mooi wanneer dit toegelaat word om oor klippe en lae tuin­mure te tuimel. Die blaartjies is heldergroen en glansend en die plant is ook ideaal om in hangmandjies te gebruik.

) Aurea is ook ’n grondbedekker, met heldergeel blare, en word aanbeveel vir plant in informele groepe. Dit groei stadiger as die gewone spekboom, het ’n hoogte van ongeveer 30 cm tot 50 cm en ’n spreidende groeiwyse. Die blaartjies is heldergeel aan rooierige stele. Plant dit liefs in volson om die loofkleur uit te bring.

) Variegata groei stadig en kan tot 2 m hoog word, en dra aantreklike roomkleurig-en-groen blare aan rooierige stele. Dit vaar beter in volson om die bont loofkleur te behou.

Anna Celliers, Netwerk24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.