Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sport skep universele taal vir bediening

As jong predikant van die NG Moedergemeente in Bethlehem was die kansel Ben Marais se platform, maar dit was op ’n sportveld waar hy ’n universele taal ontdek het wat hom eindelik in staat sou stel om God se liefde oor kleur- en kultuurgrense heen te deel.

Marais (50), wat deesdae in Bellville woon, vertel dat hy in Bethlehem ’n krieketakademie begin en jong spelers by die plaaslike laerskool afgerig het. Die ma van een van dié spelers het eendag aan haar seun voorgestel dat hulle ’n afrigter nader aan hul huis oorweeg. Die 11-jarige se reaksie? “Nee, Mamma, by coach Ben leer ek van krieket én van God.”

“Ek het vir die eerste keer werklik besef in hoe ’n mate ek geloof en sport op die veld integreer – en dat ek op die sportveld baie meer effektief is as op die kansel,” vertel Marais.

Dié oortuiging het in sy binneste begin groei, soveel so dat hy geroepe gevoel het tot die sportbediening. In daardie stadium het hy egter nog geglo dat die bekende, rugby en krieket, die medium daarvoor sou wees . . .

“Wat kan ék doen?”

In 2002 het Marais en sy vrou, Marlene, en hul kinders Christoff, Sandri en Estea (vandag onderskeidelik 23, 22 en 17) Kaap toe verhuis nadat hy in Stellenbosch ’n sportbedieningskursus van die Internasionale Sportkoalisie gevolg het.

Ná ’n seisoen as lewensafrigter is hy in 2009 deur die Ring van Kaapstad, die Wes-Kaapse Jeugkommissie en die Sinodale Jeugkommissie befonds om oor die land heen te reis en bewusmaking te skep van die komende Werêldbeker-sokkertoernooi en die bedieningsgeleentheid wat dit sou bring.

Teen 2015 het die kwessie van vaderloosheid al swaarder op Marais se hart gedruk. Hy was toe reeds aangestel as die nasionale direkteur van Ambassadors Football SA (Afsa), die plaaslike kantoor van ’n internasionale sokkerbediening.

Een van die grootste uitdagings in die wêreld vandag is ’n gebrek aan vaderfigure en positiewe rolmodelle, sê Marais. Navorsing deur die Amerikaanse departement van gesondheid het byvoorbeeld gewys dat ’n sterk verband tussen die gebrek aan ’n pa-figuur en geweldmisdade, dwelm- en drankmisbruik, tienerswangerskap en selfdood bestaan.

Juis daarom lei Afsa afrigters op om dié geleentheid te benut en rig hulle self twee keer ’n week laerskoolleerlinge in Bellville af – die perfekte geleentheid om op ’n vroeë ouderdom ’n positiewe impak in ’n kind se lewe te maak.

Marais vertel ook van Afsa se sokkerakademie in die Drakenstein-gevangenis in die Boland, waar jong gevangenes gekeur word om aan die program deel te neem.

“In Drakenstein kon ek sien hoe saam sokker speel vertroue bou. Inherente wantroue en vooroordele word afgebreek wanneer ek saam met gevangenes op die veld is. Ek is nie meer iemand wat net met hulle kom praat, ’n buitestaander nie, want nou deel ons dieselfde passie. Ná ’n paar maande begin hulle hul harte oopmaak.”

En die proses is wedersyds, erken Marais. “Ek het geleef met ’n vooroordeel teenoor mense wat in die tronk is, want ‘hulle verdien dit’ immers. Toe werk ek in ’n tronk en luister vir die eerste keer na hul seer, soos die jong man wat hom weens huislike omstandighede tot gewapende rooftogte gewend het. En weer kom ek tot daardie besef dat ons elkeen ’n aandeel het in dié jong man se lot . . .”

Vandag is daardie jong man self ’n afrigter en rolmodel vir jong spelers. En daarin lê die krag van ’n sportbediening soos Afsa, glo Marais. Om Suid-Afrika se statistieke te verander deur middel van gemeenskapstransformasie, moet dit gedryf word deur individuele transformasie. Want dis die individu wat uiteindelik met sy nuwe identiteit, sy nuwe vaardighede, sy dieper geloof, verandering bring in sy span, sy skool, sy gemeente, sy woonbuurt.

Dít is die vrug van daardie saadjie wat jare gelede op Bethlehem in ’n jong predikant se hart geplant is.

“Daarom,” sê Marais eenvoudig, “doen ek wat ek doen.”

  • Sedert die staat van inperking gaan Afsa se werk voort, maar binne die regulasies van die inperking. Kontak met spelers en sokkerafrigters word byvoorbeeld deur middel van Zoom-vergaderings en video-oproepe behou.
  • Besoek www.ambassadorsfootball.org/za of www.facebook.com/aishopeacademy vir nog inligting.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.