Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Stories laat leser wonder

Haar storie-idees begin by iemand se gesigsuitdrukking of iets vreemds wat gebeur – so weef sy gedagtes en idees bymekaar vir kortverhale.

Madré Marais, waarnemende hoofsubredakteur in Volksblad se dagkantoor wat die taalversorging en bladuitleg doen van die Sentrale Streek se gemeenskapskoerante soos Bloemnuus, se kortverhaleboek Luistervink het onlangs verskyn.

“Ek vra myself seker vyftig keer ’n dag af: wat as? Ek sien mense en situasies raak en stel my oop vir die indrukke wat dit op my maak. Ek maak heeldag stories op.”

Madré is ’n plaasmeisie wat haar skoolloopbaan aan die Hoër Meisieskool Oranje voltooi het. Haar ouers, Herman en Fransu­lene van der Merwe, het vir sowat 45 jaar op die plaas Help­mekaar, sowat 100 km buite Bloemfontein in die rigting van Fauresmith, geboer.

Ná matriek het Madré taalpraktyk aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer en haar honneursgraad in vertaling gedoen.

Sy het in 2011 in Volksblad se dagsubkantoor begin werk en in 2016 kans gesien vir ’n groot uitdaging toe sy die meestersgraad in kreatiewe skryfkuns onder leiding van Francois Smith en Henning Pieterse aan die UV gevolg het. Dit is hier waar talle van haar kortverhale gebore is as deel van die manuskrip wat sy vir die graad moes voltooi.

“My droom was nog altyd dat Human & Rousseau ’n boek van my sou uitgee. Dié uitgewer is een van die fakkeldraers vir die Afrikaanse kortverhaal.”

Sy het die manuskrip met 17 kortverhale in Maart 2018 vir die uitgewers gestuur en hulle het in Oktober van daardie jaar laat weet dat hulle die boek wil uitgee.

“Toe begin die werk van voor af. Ek moes herskryf en byskryf.”

Ná ’n intensiewe proses en harde werk is 13 van haar kortverhale eindelik in Luistervink opgeneem.

Selfs nog voordat Luistervink op die rakke was, is een van dié kortverhale, “Lafbaait”, opgeneem in Die nuwe Afrikaanse prosaboek saamgestel deur Sonja Loots en Steward van Wyk en ook uitgegee deur Human & Rousseau.

“Die uitgewers het my kortverhaal voorgelê en dit was ’n lekker verrassing toe my storie in die prosaboek opgeneem is.”

Madré sê haar kortverhale laat die leser nie vinnig los nie.

“Die meeste van hulle het oop eindes en ek hoop dit sit mense aan die dink, sodat die storie langer by hulle talm.

“Met die werk aan die kortverhale vir die graad en later vir die bundel, het ek na my eie stem gesoek.”

Sy sê dit was glad nie ’n maklike proses nie, veral omdat haar en haar man, Shane, se eersteling, Hunter (nou 10 maande), in die tydperk waarin sy aan die boek gewerk het, gebore is.

“Ek is baie opgewonde oor die boek en wil graag mense se menings oor die stories hoor.”

Sy is klaar weer aan die skryf en hopelik sal lesers nog baie van haar unieke stories kan lees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.