Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Struike gee tuin struktuur

Die plantlys vir ’n suksesvolle tuin sluit groot struike in wat heeljaar aantreklik is en ook gebruik kan word as heining- en skermplante.

In ’n klein tuin het jy miskien net een so ’n plant nodig om jou buurman, die hondehok of die wasgoedlyn af te skerm.

In ’n groot dorpstuin sal ’n paar hiervan, in die vorm van ’n halfmaan, sirkel of vierkant geplant, in ’n kort tyd ’n groen “tuin­kamer” skep waarin jy kan ontspan of sommer net wegkruip – die groot struike sal die geraas in ’n besige woonbuurt demp.

In ’n plaastuin kan jy rye en rye plante as formele of informele heinings plant om as windskerms vir ander plante te dien, of om ’n groot tuin op ’n dekoratiewe manier in kleiner tuine met verskillende temas te verdeel.

Blinkblaar-viburnum

Daar is geen einde aan die maniere waarop viburnum odoratissimum, ’n digte, vinnig groeiende, immergroen struik, in die landskap gebruik kan word nie.

Dié struik met sy groot, heldergroen, elliptiese blare kan tot 4 m hoog en 2 m breed word.

Die viburnums wat plaaslik tot ons beskikking is, word oor die algemeen nie vir hul blomme geplant nie, maar eerder vir die netjiese loof en hul betroubaarheid as goeie raamwerkstruike.

Dit blom wel redelik oorvloedig in die lente en vroegsomer. Die klein blommetjies is wit of ligpienk en word in saamgestelde, breë trosse geproduseer. Later kom ’n ylerige oes van klein, swart vruggies wat gou deur die voëls weggedra word.

Viburnums hou van koel, gematigde klimate met nat somers, maar sal aan albei kante van dié spektrum meer uitdagende groeitoestande verduur. Dit groei in die koeler subtropiese streke en vaar goed in koue tuine op die Hoëveld.

In ’n jaar met uitsonderlike swaar ryp kan die blare beskadig word, maar die plante loop gou weer uit.

Volson word aanbeveel, maar ligte skaduwee soos dié van geboue en ander groot struike of bome in die omgewing is nie ’n probleem nie. In te diep skaduwee sal die plante yl word en nie blom nie.

Die plante groei goed aan die suidekant van ’n huis, waar ander sonsoekers nie aard nie. Dit hou van koel en klam (nie aanmekaar sopnat nie) grond en wortelstelsels en gereelde water in die somer wanneer hulle aktief groei. Die plante kan wel krisistye van dors oorleef. Lei jong plante aanvanklik gereeld nat.

Viburnums kan dwarsdeur die jaar slegs vir netheid gesnoei word indien dit nodig is. Ouer plante wat dalk hul toegelate spasie oorgroei het, kan vernuwe word deur al die onderste sytakke te verwyder, net een of twee groot hooftakke met hul boonste sytakke te behou en dan gereeld hul blaarkrone ’n bietjie te tem vir ekstra digtheid.

In die geval van ’n groot uitgegroeide eksemplaar kan dit hoër op gesnoei word, wat jou gaan laat met ’n boompie en in dié skadu kan jy dan nuwe meerjariges plant.

Photinia

Photinia x fraseri Red Robin is ’n interessante immergroen struik.

Dit het glansende, leeragtige en donkergroen volwasse blare, maar die nuwe groei aan die punte van sytakke is aanvanklik ’n positiewe helderrooi skakering. In die somer verskyn ’n oorvloed blomhofies vol klein, wit blommetjies.

Rhaphiolepis

Rhaphiolepis delacourii Kruschenia is ’n spreidende immergroen struik met wasagtige, donkergroen blare. Van die laatwinter tot lente verskyn pienk blommetjies wat deur donker bessies gevolg word.

Dit word ongeveer 2 x 2,5 m groot en groei in volson en ligte skadu.

Feite oor al drie:

  • digte skermstruike vir koue klimate;
  • windbestand naby die kus;
  • geen fiemies oor grondsoorte nie, maar goeie dreinering en komposverrykte grond verseker sukses;
  • word selde of eintlik nooit deur peste gepla nie;
  • verdra ligte en strawwe snoei – hoë heinings, lae heinings, siersnoeivorms en kweek in groot potte is moontlikhede.

Anna Celliers

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.