Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Tawwe Tienie binne en buite ’n plesier

Sommige plante laat jou toe om buite in die tuin, asook in die huis, met hulle te speel.

Die voorkoms en groeiwyse van dié plante is vreemd, en nog vreemder is dat niks hulle onderkry as hulle eers kolle gevind het waar hulle gelukkig is nie.

Dit was liefde met die eerste oogopslag toe ek die heel eerste keer die klouterplant of geronde grondbedekker Muehlenbeckia complexain ’n vriend se skadutuin gesien het.

Daar kan dit wild groei en, met sy lang maar stewige en slingerende sjokoladebruin stingels met klein blinkdonkergroen tot amper swart blaartjies, kan dit bedek wat dit ook al wil.

In hierdie omgewing waar dit gereeld natgemaak en bemes word (en die wortels onversteurd bly), het dit so welig gegroei dat dit soos ’n nooienshaarvaring op steroïede gelyk het.

In ’n kusomgewing in volson met baie min water het my eerste plant (wat ek nog in sy kwekerypot bloot in ’n gruis­vetplantbedding gesit het met die bedoeling om later daarmee te speel) rebelleer omdat ek dit verwaarloos het.

Dit het uit die pot begin ontsnap, tussen die gruisspaanders wortelgeskiet en gou ’n klein groen maar baie draderige hopie tussen taai vetplante geword.

As dit natgemaak is, het dit welige nuwe blare gemaak, en as dit droog gebly het, het dit swart geword en selfs verdwyn – net om weer ná ’n bietjie lafenis te verskyn.

Weens ’n fanatiese blomme­kunstenaar het ek hierdie plant verloor. Die blommekuns­mense hou van die karakter van die draderige stingels, dood of lewendig.

Nog eksperimente met hierdie vreemde plant het my die huis ingelei na naby ’n suidevenster. Ek het droombeelde gesien van ’n wilde, draadagtige ranker wat eendag my venster sal bedek.

Muehlenbeckia-gebooie

  • Plant dit in volson of spikkelskadu buite of hou binne met baie lig.
  • Die vinnige en doeltreffende grondbedekker versprei uiteindelik sowat 3 x 3 m.
  • Dit is maklik om reg te knip as dit nodig is en werk goed onder bome waar mededingende boomwortels of diep skadu dit nie beïnvloed nie. Dit verdra ook voeteverkeer, hoewel niemand daaroor of daardeur sal wil loop nie – dit sou lank duur om jou los te maak.
  • As kruipende ranker is dit selfondersteunend, met sy vervlegte stingels.
  • Sy welige groei sorg vir ’n kits­eindresultaat aan ’n traliewerk, in ’n hangmandjie of as vormplant. Snoei dit gewoonweg of straf om sy vorm te behou.
  • Dit verdra kustoestande (dit is sout- en windbestand) en kan ook toestande met koue en ligte ryp oorleef. As die plant aan strawwe koue blootgestel was, sny dit bloot om dit toe te laat om in die somer weer wortel te skiet.
  • Dit is tuis in ’n verskeidenheid grondsoorte, van sand tot leem en kleigrond, mits dit goed dreineer.
  • Hou die plant in die somermaande tevrede deur dit gereeld nat te maak, en gee veel minder water in die wintermaande.

Cryptobergia ‘Bronze’

Hierdie plant het ontstaan as kruis tussen twee bromelia­spesies: Billbergia nutans(epifiet) en Cryptanthus bahianus (grondbromelia). Dit kan beskryf word as ’n stewige sierplant met stywe en effens buigende, getande blare in ’n spiraal- of rosetrangskikking wat digte polle vorm. Die bokant van die blare is ’n glansende bronsrooi met groen vlekke, terwyl die onderkant ’n poeieragtige silwergrys kleur het.

Cryptobergia-statistieke:

  • Die plant groei die beste in helder skadu of son.
  • Dit gedy in goed gedreineerde grond en het slegs water nodig wanneer die grond werklik droog raak. Oorbenatting sal die plant laat vrot.
  • Gebruik dit as kontrasterende randakkerplant met ander taai waterbesparende plante soos soutbosse (Einadia hastata) en lamsore (Stachys byzantina) met hul grys loof, asook die brons­blarige Carex “Red Rooster” – hulle werk goed saam.
  • Verdeel die vinniggroeiende polle deur bloot die spirale van mekaar los te trek.
  • Hierdie fiemieslose keuse sorg vir interessante patiopotte.
  • Dit is uitstekend as binnens­huise “troetelplant” in die sorg van ’n vergeetagtige tuinier wat plante dalk nie gereeld natmaak nie.

– Anna Celliers, Netwerk24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.