Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Tiener saal ’n ander perdjie op
Die 13-jarige Mignon Thomas is nie net ’n uitblinker in kuns en kultuur nie, maar ook ’n kranige perderuiter. Hier is sy saam met haar perd, Tequila.Foto: Verskaf
Mignon Thomas (13), het tydens die staat van inperking nie vir ‘n oomblik stil gesit nie. Buiten al haar kultuur deelnames het sy en ‘n vriendin hulle eie onderneming begin nie. Foto:

’n Talentvolle meisie van Bethlehem het haar nie deur die uitdagings van 2020 laat onderkry nie, maar eerder besluit om die beste van elke oomblik te maak.

Nie net het die 13-jarige Mignon Thomas saam met ’n vriendin hul eie onderneming begin nie, maar sy het ook haar passie vir kuns en kultuur voluit uitgeleef.

Mignon, ’n leerling aan die Laerskool Truida Kestell in Bethlehem, het in die inperking besluit dat sy eenvoudig nie gaan toelaat dat 2020 enige van haar drome pootjie nie.

“Hierdie jaar het vir ons almal duisende uitdagings ingehou, maar dit het nie vir Mignon gekeer om te doen wat vir haar lekker en belangrik is nie,” sê Tania Thomas, Mignon se ma.

As negejarige het Mignon haar by die Creative Dynamics-dramaskool in Bethlehem aangesluit, en sedertdien ontvang sy afrigting by Ronelle van Heerden, die eienaar.

In gr. 6 het sy haar droom verwesenlik toe sy die hoofrol as Mr Buster Moon in haar skool se sangfees, Sing, vertolk het. Sy geniet dit om op die verhoog te wees en deur gehore toegejuig te word.

In die afgelope drie jaar het sy ook erekleure vir redenaars verwerf.

Hoewel 2020 ’n jaar vol uitdagings was, was dit vir Mignon ook een vol hoogtepunte.

Op 19 Februarie het sy ’n tweede plek in haar skool se redenaarskompetisie verwerf.

’n Week later het sy ’n derde plek in die skool se redenaarsuitdunne behaal en sodoende na die ATKV-redenaarskompetisie deurgedring.

Die Covid-19-pandemie het nie haar talente ingeperk nie. Sy het in Mei aan die Radikale Redenaars-kompetisie deelgeneem en met twee A-simbole en twee A+-simbole weggestap.

Hoewel die provinsiale uitdunne gekanselleer is, het sy steeds ’n 11de plek op nasionale vlak verwerf.

Daarna het sy deelgeneem aan Dramaweb, wat deur Ira Blanckenberg, bekend vir haar rolle in Binnelanders, 7de Laan, Die Byl en Egoli, aangebied is. Sy het daar ’n platinum-eerbewys behaal.

Sy het ’n gedig vir die Inkweb-kompetisie, wat deur Jaco Jacobs en Adri Troskie-Viviers beoordeel is, ingeskryf, en ’n goue eerbewys verwerf.

Mignon het ook met sewe nommers aan Bethlehem se eerste virtuele eisteddfod deelgeneem.

Einde Augustus het sy aan die uitdunne van die Op die Planke-monoloogfees, wat deur Armand Brits aangebied is, deelgeneem. Sy het vir die nasionale eindronde op 3 Oktober gekwalifiseer en is as ’n nasionale wenner aangewys vir die vertolking van haar Afrikaanse monoloog.

Op 18 Oktober het sy aan die aanlyn Oppie Tong Af-kompetisie deelgeneem en drie A+-simbole behaal. Sy het ook drie A++-simbole in die Creative Dynamics-dramafees behaal.

Sy beplan om in Desember haar nasionale senior 2 drama-eksamen deur die Suid-Afrikaanse spraak- en drama-kollege te doen.

Intussen het Mignon saam met haar vriendin Mieke du Plooy ’n besigheid, M&M – just because you love horses, begin.

Dié twee perdeliefhebbers verkoop nou allerhande lekkernye vir perde en koerier die produkte reeds oor die land heen.

Mignon is ’n kranige ruiter wat met Vrystaatkleure in die Western Mounted Games spog.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.