Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Twee pak die lewe met lied in die hart

Ondanks die grendeltyd het twee musikante, oorspronklik van onderskeidelik Kroonstad en Senekal, die uitlewing van hul liefde vir musiek voortgesit.

Olga Leonard (35) en Babette Viljoen (34) van Kaapstad werk albei as vryskutmusikante. Hul werk behels alles van begeleiding en verwerking tot die maak van musiek vir troues en ander gesellighede, die aanbied van private klavierlesse, musiekmaak in die kerk en, deesdae, die vervaardiging van musiek aanlyn.

Dié twee het in die afgelope tyd hul talent deeglik ingespan.

Die inperking het vir hulle – soos talle musikante – geldelike implikasies ingehou, en hulle moes alternatiewe opsies oorweeg om daarvoor te vergoed.

“Ons het dadelik ingespring om klavierstudente aanlyn klas te gee. Ons beskou dit as ’n wonderlike geleentheid, want nou kan ons vir studente oor die wêreld heen klas gee,” sê Viljoen.

Studente wat nou weer mag klas loop, verkies glo die aanlyn klasse.

Die twee musikante het elke week musiek vir hul onderskeie kerke opgeneem en was boonop deel van ’n Paaskonsert.

Albei vroue is deur musiek by gemeentes en skole betrokke. Hulle is al twee in die klassiekemusiek­genre opgelei, maak ligte Afrikaanse musiek en het ’n groot passie vir Franse kafeemusiek. Albei begelei ook skoolkore.

As nog ’n projek het die twee ’n album, Lullabies, opgeneem wat op iTunes beskikbaar is.

“Ons het heelwat nuwe musiek geskryf en opgeneem, en het aan ’n paar aanlyn liefdadigheidskonserte deelgeneem. Ons het ook twee aanlyn uitvoerings opgeneem.”

Een daarvan, ALTEmit a capella saam met Hilandi du Toit en Grethe van der Merwe, sal van 25 tot 28 September te sien wees. Dit is in Februarie 2020 vir ’n kykNET Fiesta-eerbewys benoem.

Hul eerste aanlyn uitvoering, Sitkamer Soiree, het baie goed gevaar. Die uitvoering is in hul sitkamer opgeneem en die kaartjies het goed verkoop. Die vertoning is ten bate van die Presidentia-Jeugsorgsentrum in Kroonstad aangebied.

“Terwyl ons nie op die verhoog kan wees nie, bou ons aan ons aanlyn portefeulje sodat ons dit kan gebruik vir bemarking wanneer die teaters weer oopmaak,” sê Leonard.

Nadat die staat van inperking ingestel is, het hulle vir twee maande hul werk op die plaas Kristalkop, tussen Kroonstad en Vredefort, voortgesit.

Hier het hulle ’n musiekvideo vir hul enkelsnit “Ander Plek” gemaak. Dit is intussen vir kykNET goedgekeur.

Leonard het op Kristalkop grootgeword. Sy was in die Kroonheuwel- Primêre Skool en het aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria gematrikuleer.

Viljoen het in Senekal grootgeword, was in die Laerskool Senekal en het aan die Hoërskool Paul Erasmus gematrikuleer.

Leonard het BMus aan die Universiteit van Pretoria studeer en haar meestersgraad in Uitvoerende Kunste voltooi, terwyl Viljoen BA Kommunikasie studeer het en haar meestersgraad in Afrikaans en Nederlands voltooi het.

In 2014 het hulle BO Produksies gestig.

Hulle werk gereeld saam met ander musikante, digters, skrywers en akteurs en toer oor die land heen met woordkunsproduksies.

Al twee is van jongs af aan musiek blootgestel.

“My ouma Olga Rademan was my eerste klavierjuffrou,” sê Leonard.

“My ouers sê ek kan van kleins af nie by ’n klavier verbyloop nie. Ek het dit nooit regtig oorweeg om ’n ander loopbaan te volg nie.”

Viljoen sê haar ma het altyd in die kerk en op gemeenskaps­konserte gesing.

“Toe ek vier jaar oud was, het ek saam met haar ‘Mamma, ek wil ’n man hê’ op ’n konsert in die dorp gesing. Van daar af was dit klavier- en vioollesse en sing in kore. Vele meer het ook oor my pad gekom.”

Leonard kan die klavier, fluit, trekklavier en orrel bespeel, en Viljoen die klavier, trekklavier, baskitaar, orrel en viool. Sy slyp tans haar vaardighede met die konsertina. Albei sing ook graag.

Musiek beteken vir die twee samesyn, en hulle beskou hul talente as ’n voorreg. Hulle meen ook dit is heerlik om te hoor dat hul musiek mense aanraak.

Hul hoogtepunte is om saam met gesoute musikante, digters en akteurs verhoë te deel.

Hulle was ook by produksies van die KKNK, Aardklop, US Woordfees, Vrystaat Kunstefees en Grahamstad Kunstefees betrokke.

Die gedugte span het by die ATKV-liedjieskryfskool, waar hulle albei finaliste was, ontmoet. Viljoen het die kompetisie in 2011 gewen.

Leonard, Viljoen en Du Toit het in 2018 saamgespan en ’n produksie, Krog, met toonsettings van Antjie Krog, aangebied.

Daarvoor het hulle in 2018 op Aardklop die eerbewys vir beste musiekgedrewe produksie ontvang.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.