Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vasbyter ’n veelsydige staatmaker in tuin

Portulacaria afra, beter bekend as die spekboom (soetspekboom en suurspekboom) of olifantsbos, het baie gebruike in siertuinbou en is geskik vir bykans enige tuin in Suid-Afrika, behalwe in die heel koudste gebiede.

Dit is inheems in hoofsaaklik die oostelike somerreënvalstreke, waar dit in volson op droë, klipperige heuwelhange voorkom.

Die spekboom is ’n vetplantstruik, grondbedekker of klein boompie van tot 4 m hoog, maar gekweekte plante is gewoonlik kleiner.

Dit het ronde of ovaalvormige lemmetjiegroen tot donkergroen, geel of bont, vlesige blare en rooierige of grys stingels met blink bas wat mettertyd kurkagtig raak.

Die digte trosse pienk, stervormige blommetjies verskyn teen die einde van die winter en is in die lente en vroegsomer in volle blom. Dié nektarryke blomme lok baie insekte.

Hoewel die blare ’n suur smaak het, is die rou blare eetbaar en kan dit by slaaie gevoeg word.

Die blaarsap het talle medisinale gebruike, soos om seerkeel te verlig wanneer dit gekou word. As dit aan die vel gewend word, help dit ook om inseksteke, uitslag en sonbrand te behandel.

’n Merkwaardige omgewingsbate van die spekboom is sy uitstekende vermoë om koolstof te berg en in suurstof om te sit.

Daar is verskeie spekboomkultivars. Die blare van Aurea verkleur heldergeel in volson, en dit word aanbeveel dat dit in informele groepe na agter in wye randakkers geplant word.

Die regop, grootblarige kultivar Limpopo kan as ’n fokusplant gekweek word. Daar is ook verskeie bontvorms met wit- of geelgestreepte blare. As dié spekboom gereeld geknip word, vorm dit ’n ondeurdringbare heining.

Die grondbedekkerkultivar Prostata het ’n kruipende of hangende groeiwyse en is veral nuttig om grond teen ’n helling te stabiliseer. Dit is mooi wanneer dit oor klippe en lae tuinmure tuimel, en is ook vir hangmandjies geskik.

Al die kultivars kan in houers gekweek word en is ideale plante vir bonsai.

Die plante verkies ’n warm, sonnige plek, maar kan ook in ligte skadu gekweek word.

Dit is redelik rypbestand en groei maklik in enige goed dreinerende grond wat ’n bietjie ontbinde organiese materiaal bevat. Dit kan enige tyd van die jaar uitgeplant word.

As hulle eers gevestig is, is hulle langlewend en waterslim. Die plante word selde deur plae en siektes gepla. Dit plant die beste voort van steggies wat in die lente gemaak word.

Plaas steggies in water of direk in ’n potjie met grond- en sandmengsel.

Dit sal binne vier tot ses weke wortels vorm.

Benat tweeweekliks.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.