Kommer bestaan dat slenkdalkoors onder vee kan uitbreek ná die goeie reën in die Vrystaat en Noord-Kaap.
Daarom word boere gevra om hul diere so gou moontlik in te ent, sê dr. Johan van Rooyen, ’n veearts van Steynsburg.
“Veeartse vrees dat slenkdalkoors kan uitbreek omdat die toestande daarvoor nou ideaal is. In die Vrystaat en Noord-Kaap sien ’n mens oral die panne water waarin muskiete – wat die siekte versprei – uitbroei.”
Hy sê voorvalle van slenkdalkoors is reeds in Uganda aangemeld.
“Gewoonlik versprei die siekte van daar na die onderpunt van Afrika.”
Volgens hom is entstof nog vrylik beskikbaar, en moet diere so gou moontlik op die ouderdom van drie tot ses maande met die “lewende” entstof ingeënt word.
“Hierna kan al die waardevolle diere ’n dosis van die onaktiewe entstof kry as die moontlikheid van ’n uitbreking bestaan.”
Wolprodusente word daaraan herinner dat dit ook noodsaaklik is om hul skape teen slenkdalkoors in te ent.
Goeie reën het in die wolproduserende gebiede van Suid-Afrika voorgekom en het die risiko van slenkdal-uitbrekings drasties verhoog.
Enige uitbreking van slenkdalkoors sal daartoe aanleiding gee dat woluitvoer na China uit die distrik waar die uitbreking voorgekom het vir 92 dae verbied word.
Dr. Kobus Grobler van die Bergbos-dierekliniek in Rustenburg sê die voorlaaste groot uitbreking van slenkdalkoors in Suid-Afrika was in 1974.
In 2008 en 2009 het enkele gevalle in die land voorgekom, maar dit is eers ná die goeie reën van Januarie en Februarie 2010 dat die onlangste uitbreking voorgekom het.
Hy sê slenkdalkoors word veroorsaak deur ’n virus wat deur muskiete aan beeste, skape en bokke oorgedra word.
Die siekte tas mense ook aan, maar word aan mense oorgedra deur kontak met siek diere of vars karkasse en nie muskietbyte nie.