Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Verbleikblom gee kleur aan tuin

Die verbleikblom is soos die verkleurmannetjie van die plantwêreld. Gister se donkerpers blomme word vandag se ligpers, en môre se bleekwit – vandaar ook die Engelse volksnaam yesterday- today-and-tomorrow.

Brunfelsia pauciflora “Floribunda” is ’n lank lewende, uiters romantiese, immergroen blomstruik wat tot 3 m hoog word. Die mentgroen blare is ellipties en leeragtig met ’n wasagtige glans.

Die kleur van die amper oorweldigende massa welriekende blomme wat dié plant in Oktober bedek, wissel van ’n intense donker bloupers na ligpers tot wit.

Al die kleure kan terselfdertyd op die goed vertakte plant teenwoordig wees. Die struik blom ook herhaaldelik met nuwe blomfases – van die lente tot einde somer en selfs tot vroeg herfs.

Beste klimaat

Brunfelsias is tuis in warm, sub-tropiese tuine, maar groei ewe goed in kouer klimate waar hy ligte ryp sal verduur, maar bladwisselend is in die koue maande.

Dit groei ook naby kusstreke, mits dit teen wind beskerm word.

Die plant floreer egter in streke met ’n hoë somerreënval.

Kweekgebooie

  • Plantplek: Plant jou struik in ligte skaduwee. Areas met oggendson en middagkoelte is ideaal, hoewel volson ook goed is.

Brunfelsias is die ideale keuse vir groeiplekke aan die suidekant van die huis, waar ander struike soos krismisrose, asaleas en kamelias ook gedy.

  • Grond: Plant dit in goed verrykte, klam grond waarby mildelike hoeveelhede organiese materiaal ingewerk is. Hulle is suurliewende plante wat ’n lae suur- of alkaligehalte onder die neutrale 7 verkies. Werk ’n suur deklaag van dennenaalde of suur kompos om die basis van die plant en oor die wortelstelsel by.
  • Brunfelsias hou van gereelde, diep water in die somer. Jy kan minder natlei in die winter.
  • Bemesting en snoei: Bemes elke ses weke van die lente en deur die somer met ’n algemene misstof ryk aan pot-as wat sy voedingstowwe stadig vrystel.

Plante wat te vrypostig in hul toegelate ruimte groei, kan vir netheid liggies gesnoei word om hulle tussen blomfases in toom te hou. Sommige tuiniers is lief om hulle in siervorms van groot balle of hoogstamboompies te snoei, wat hulle in pragtige, opgewekte fokuspunte verander.

Die plant groei natuurlik spreidend en opwaarts, met talle sytakke wat baie blomme oplewer.

Probleemoplossing

Die blare van dié plant kan soms verbleek na geel – net soos dié van sitrusplante, katjiepierings en lemoenjasmyne. Dit is gewoonlik ’n teken van ’n mikro-element­tekort. Stel dit reg deur jou plant gereeld ’n vloeibare tonikum te gee soos Trelmix of Engelse sout wat met water aangemaak word.

’n Stikstofryke misstof kan ook bykomend om die wortelstelsel toegedien word, gevolg deur baie water. Moet dit egter nie oordoen nie, anders sal jy baie welige loofgroei stimuleer met min blomme.

Pragtig in potte

Brunfelsias kan ook suksesvol in potte gekweek word. Gebruik net die beste gehalte potgrond waarby kompos gevoeg is. Onthou om agterna ’n suur deklaag te gebruik en gereeld aan te vul.

Plante in potte moet meer dikwels water kry; die grond moenie heeltemal verdroog nie.

Brunfelsias wat in potte geplant is, moet ook meer gereeld bemes word met ’n algemene vloeibare misstof.

Pasop vir hooikoors

Gebruik die struik waar jy die beste voordeel uit die soet geur van die blomme kan kry, soos naby ’n slaapkamervenster of in potte op die kuierstoep.

Wees egter bedag daarop dat diegene wat aan erge hooikoors ly, dalk kan kla.

– Anna Celliers, Netwerk24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.