Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vetplante pronk sierlik op klein skaal

Om kop of stert uit te maak van die korrekte benamings vir al die haworthia-spesies, va­riëteite en hibriede blyk ’n onmoontlike taak vir ’n leek te wees.

Plante van dieselfde spesie verskil ook van mekaar weens verskillende habitats en daarom gaan ek bloot “tuinboukundig” na hierdie interessante klein vetplantjies kyk, wat soos miniatuur-aal­wyne lyk. (Hulle is in dieselfde familie ingedeel.)

Ek het ’n paar van dié bekoorlike plantjies in klein potjies by ’n kwekery raakgeloop, dadelik verlief geraak en nou het die versamelgogga my gebyt.

Die name wat op my plante aangegee is, is H. fasciata, wat die sebra-haworthia genoem word. Die rosetvormige plantjie se vetplant­agtige blare is breed aan die basis en skerp gepunt met onegalige, growwe wit spikkels.

Ek het ook die H. limifolia wat, vry vertaal uit die Engelse volksnaam, die “feetjies se wasplank” is. Die blare het alkant kronkelende wit riwwe wat grof voel.

Die algemene beskrywing van hierdie vetplante is genera met klein plante met onbeduidende wit blomme, maar uiters interessante groeiwyses wat hul blaarvorme betref. Hulle is blykbaar gehard teen hitte en droë toestande met ’n voorkeur vir ligte skadu.

Haworthias word oor die wêreld heen gekweek en gehibridiseer vir die binnenshuise mark en ons kan gerus dieselfde doen, aangesien hulle die perfekte plante is vir klein ruimtes soos ’n balkon of vensterbank en nie moeilik is om gesond en lewend te hou nie.

Lig

Wat die algemene kweekgebooie van die meeste vetplante betref, is dit ’n mite dat hulle almal van volson en bakkende groeiplekke hou. Haworthias groei byvoorbeeld in die natuur in die koelte van rotse en ander plante, maar wel in baie goeie lig en lugbeweging.

H. maculata se rosetagtige groeiwyse kan byvoorbeeld vier vyfdes van sy oppervlakte onder die koel bedekking van die grond in sy natuurlike habitat naby Worcester wegsteek. As jy van hierdie plante binnenshuis wil kweek, doen dit op ’n vensterbank wat slegs oggendson en middagkoelte kry of op ’n plek met goeie lig naby ’n warm venster.

In die tuin kan hulle goed tussen rotse of ornamentele grasse vaar waar hulle ’n bietjie beskut is. Grond

Die plante groei baie stadig en hoef nie gereeld in ’n ander pot oorgeplant te word nie. Moet ook nie ’n klein plantjie in ’n pot plant wat te groot is in die hoop dat dit die pot gouer sal vul nie, want dit kan tot wortelvrot lei.

Haworthias groei mettertyd in die vorm van digte polle met lopers wat die moederplant maak.

Indien dit gebeur, kan die lopers losgetrek word van die moederplant om jou voorraad te vermeerder. Hierdie plante lyk mooi saam in ’n vlak bak met genoeg diepte om die wortels te ondersteun.

Hulle word ook gereeld saam met ander klein vetplante in gemengde aanplantings gebruik.

Gebruik kommersiële vetplant-potgrond of gewone potgrond waarby growwe dreineringsmateriaal soos perliet of grint gemeng is. In die tuin moet daar uiters goeie dreinering wees.

Water

Soos met alle vetplante, moet die grond toegelaat word om goed uit te droog voordat jy water gee.

Daarom kan ’n mens nie sê doen dit een of meer keer per week nie. Die beste manier bly om jou vinger in die grond te druk en te voel.

Omdat dit ’n rosetvormige plant is, sal ek in die wintermaande, wanneer plante stadiger uitdroog, probeer om nie water in die plant se “kroon” te laat kom nie, maar eerder net grondlangs natmaak.

) Bykomende bron: Succulent Flora of Southern Africa deur Doreen Court. Kaapstad, 1981. ISBN 0 86961 121 6.

Anna Celliers

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.