Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
VKB beleef besonderse wins vir 2018

Die VKB-groep is ’n dinamiese landbou-onderneming wat sedert sy ontstaan bykans ’n eeu gelede, konstant daarop fokus om toenemend oplossings vir die veranderende en uiteenlopende behoeftes van landbouprodusente en verwante belanghebbendes te bewerkstellig.

Vandag is die VKB-groep ’n “house of brands” met ’n unieke samestelling van handelsmerke en produkte wat die groep een van die leiers in die landboubedryf maak.

Die 2018 finansiële jaar was ’n baie besonderse jaar in VKB se geskiedenis.

Die maatskappy vier in 2019 sy 100ste bestaansjaar en wy dit met ’n rekordjaar in vele opsigte in.

Die VKB-groep het die jaar met ’n wins van R534 miljoen voor belasting afgesluit.

Hierdie resultate verwesenlik VKB se strategiese doelwit waarna die afgelope aantal jare gestreef is, naamlik om R500 miljoen wins voor belasting te bereik.

Hierdie resultate is bereik ongeag die feit dat al die nywerhede nog nie na wense presteer het nie en VKB sien uit dat al die entiteite en divisies binne die groep hul werklike potensiaal bereik.

VKB se landboudivisie presteer goed

VKB Landbou het die afgelope jaar weer eens voortreflik presteer. Hierdie prestasie is gestimuleer deur die grootste someroes ooit in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. VKB het gevolglik ook sy grootste oes ooit ontvang, wat weer ernstige logistieke uitdagings geskep het.

Dit kon gelukkig die hoof gebied word deur tydige uitbreiding van geriewe, innoverende planne en goeie graanbestuur. Die groot oes het dan ook die basis geskep vir die uitstekende finansiële prestasie.

Verbeterde prestasie van VKB se nywerhede

VKB se sekondêre doel is om waarde tot sy produsente se produkte toe te voeg.

In skrille kontras met die vorige jaar se swak prestasie het VKB Agri Processors (Edms.) Bpk. (“VKB Agri Processors”) hierdie jaar baie goeie resultate gelewer.

Die groot someroeste en gevolglike lae mielie- en sojaboonpryse baan die weg vir baie mededingende toestande vir VKB se nywerhede.

Grain Field Chickens (Edms.) Bpk. (“GFC”) het uitstekend presteer en die verliese van die vorige jare is uitgewis.

Die hoenderbedryf is tans baie meer stabiel in vergelyking met die vorige jaar, ongeag voortgesette hoë invoere.

Die prestasie is meegebring deur goedkoper insette sowel as uitstekende resultate wat deur die kontrakgroeiers behaal is.

Die vorige jaar se swak prestasie het die bestuurspan genoop om op elke klein besonderheid van die bedryf te fokus ten einde GFC se mededingendheid te verbeter.

Die sojaboonaanleg het ook uitstekende resultate vir die jaar gelewer. Die opera­sionele prestasie van die aanleg is baie goed en die laer grondstofpryse het geleenthede gebied om teen redelike marges te pers.

VKB se meulens het beter presteer as die vorige jaar, maar nie aan die verwagtinge voldoen nie. Maalkapasiteit is gedurende die afgelope jaar verder uitgebrei deur die toevoeging van Lydenburg Meule. Dit volg op die verkryging van die meule in Makhado (Louis Trichardt) gedurende die vorige jaar.

Ongelukkig het die koringmeule afbreuk gedoen aan die andersins goeie prestasie van die nywerhede.

Die swak prestasie is hoofsaaklik te wyte aan die regering se gebrek aan ’n duidelike en deursigtige beleid aangaande die koringbedryf.

VKB is vol vertroue dat die bedryf en die regering sal saamstaan om hierdie situasie aan te spreek vir die toekoms om sodoende die voortbestaan van die bedryf te verseker.

Goeie vordering is reeds gemaak met die vestiging van die nywerhede, wat reeds waarde toevoeg tot witmielies (210 000 ton), geelmielies (85 000 ton), sojabone (140 000 ton) en koring (97 000 ton). Dit dek dus die vernaamste gewasse wat in die VKB-produksiegebied verbou word.

Strategiese ontplooiing

Die prestasie wat die afgelope jaar behaal is, onderskryf die meriete van VKB se strategie.

VKB is steeds van mening dat die waardetoevoegingstrategie die regte strategie is en dat, gegewe ’n gelyke internasionale speelveld, die nywerhede in die toekoms nóg groter waarde vir VKB se aandeelhouers en produsente sal toevoeg.

Prognose vir 2019

Die prognose vir die 2019 finansiële jaar lyk uiters gunstig. Aanduidings is dat groot someroeste weer eens ingesamel sal word. Sojabone en mielies lewer goeie opbrengste regdeur die VKB-gebied.

Ongelukkig plaas beleidsonsekerheid oor grondeienaarskap ’n effense demper op investering in landbougrond.

Die groot someroes bied aan produsente die geleentheid om hul finansiële posisie te verbeter en bied aan VKB graanvolumes wat die bergingskapasiteit kan oorskry.

Dit behoort in die 2019 finansiële resultate te reflekteer. Die laer kommoditeitspryse bied weer eens aan al die nywerhede die geleentheid om billike resultate te realiseer.

Gevolglik word met groot verwagting na die ontplooiing van die nuwe finansiële jaar uitgesien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vrystaat Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.