Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Voortrekkers vier 80 j. van plaaspret

Die koppies, doringbome, veld en sterbelaaide hemel van Doornkloof buite Kroonstad het in die skool­vakansie weer diep in die hart van Vrystaatse Voortrekkers gekruip.

Doornkloof is nou reeds 80 jaar in die besit van Die Voortrekkers in die Vrystaat, en kinders en volwassenes van oor die provinsie heen het dit die 80ste jaar waarin Doornkloof in besit van die Vrystaatse Voortrekkers is,op die jaarlikse saamtrek gevier.

Dié plaas het voorheen aan die Voortrekkerleier Sarel Cilliers behoort.

Altesaam 740 Voortrekkers het die vier kampe, wat van Saterdag 21 September tot Woensdag 25 September vir laerskoolleerlinge aangebied is, bygewoon.

Twee offisiere van die Jordania-kommando in Bethlehem is die Sondag op ’n spesiale kerkparade vir ’n heldedaad vereer.

Juan-Pierre Bosman en Johan Leslie het in Mei vanjaar kinders teen ’n swerm bye beskerm en daarvoor Die Voortrekkers se Reddingsboei, ’n eerbewys vir buitengewone dapperheid, ontvang.

Ds. Jan du Plessis, voormalige gebiedsleier van die Vrystaat en nou gebiedsleier van Die Voortrekkers in Namibië, het die geleentheid bygewoon.

Hy het namens die nasionale hoofbestuur van Die Voortrekkers ’n hoofleierseerbewys aan Doornkloof oorhandig vir die besonderse waarde wat dié terrein die afgelope 80 jaar tot die ontwikkeling van die Afrikanerjeug toegevoeg het. Dit is deur Willie Engelbrecht, gebiedsleier van die Vrystaat, in ontvangs geneem.

“Hier het ons geleer, hier het ons gespeel, hier het ons die Here beter leer ken. Elkeen wat ledegeld betaal het, het ’n stukkie van Doornkloof gekoop – so Doornkloof behoort aan elkeen van julle,” het hy gesê.

Vier kampe vir die verskeie graadgroepe is op verskillende terreine op die plaas aangebied – Doornkamp op die Vlagsaalterrein, Kamp Klitsgras op Overspruit, Kamp Murgpyp op die Piet Geyer-terrein en Avontuurkamp op Suiderkruis.

Gr. 4-Voortrekkers het op Doornkamp die eerste keer met Doornkloof kennis gemaak. Hulle het meer oor dié Voortrekkerplaas se lang geskiedenis geleer, en aan twee spesialisasie-kentekens gewerk: noodhulp en die kultuurgeskiedenis van die Groot Trek.

Wian Kirsten van die Kroonheuwel-Voortrekkerkommando sê hy het die modderspele Saterdag waarin kinders van kop tot tone met modder besmeer was, sommer baie geniet.

“Die lekkerste vir my was om na insekte in die spruit te soek,” het Jana Jordaan van die Universitas-Voortrekkerkommando in Bloemfontein met ’n groot glimlag vertel. “Ons het baie paddavissies gevang en weer in die water losgelaat.”

Sy was een van die gr. 5-leerlinge wat aan die weerkenteken en die spesialisasie oor varswaterdiere op Kamp Klitsgras gewerk het.

Die gr. 6-Voortrekkers kon nie wag vir Operasie Murgpyp wat hulle na verskeie punte oor die plaas heen sou neem nie.

Maar voordat dit kon gebeur, het die jong Voortrekkers eers aan ’n hele klompie aktiwiteite soos kettieskiet, kleilatgooi, handwerk en jukskei deelgeneem.

Robin-Lee Rautenbach van die Olienhout-Voortrekkerkommando van Bloemfontein sê die adrenalien het “behoorlik gepomp” met hul eerste oefening vir Operasie Murgpyp. “Ons leer hier om as ’n span saam te werk.”

Die aktiwiteite op die gr. 7’s se Avontuurkamp het vanjaar vernuwe. Corlia Botha, kampleier, sê sy het die program ’n bietjie aangepas om meer te fokus op oorlewing in die veld. Die kinders moes in die veld hul eie skuilings bou en saans daarin slaap.

Karien Bezuidenhout van die Harrismith-Voortrekkerkommando, wat op Avontuurkamp gekampeer het, sê dit was vir haar lekker om te leer hoe om ’n sweep te klap en hoe om met vuursteen ’n vuur te maak.

Voortrekkers op dié kamp kon ook in hul eie “Olimpiese Spele” meeding. Van die nommers waaraan hulle moes deelneem, is sjokolade-eet en die 100 m-kruip.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.