Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Vullisberg’ platgestoot

Dit lyk asof daar dalk lig aan die einde van die vullistonnel in Môrelig, Bethlehem, is.

Belanghebbendes het Woensdag (22/07) by die vullisterrein in Hugostraat byeengekom om oor die pad vorentoe besin.

Dit kom ná maande se gespook om toe te sien dat slegs tuinvullis hier gestort word en dat die vullis gereeld verwyder word.

Isoldé Laesecke, ’n plaaslike gemeenskapsleier, beywer haar reeds jare lank vir die opruim van die vullisterrein.

’n Verslag, wat ’n omgewings­impakstudie insluit en dui op die gesondheidsgevare van die oorvol terrein digby die Môrelig-woonbuurt, is vroeër aan die munisipaliteit en die direkteur vir distriks­gesondheidsdienste oorhandig.

Die proses om die berg vullis wat verlede week nog daar was gelyk te maak, sou volgens Lekgetho Mokgatlhe, munisipale bestuurder, tot Sondag duur.

Carina van Niekerk, DA-raadslid, sê die terrein is vir beperkte vragte tuin- en huis­houdelike vullis bedoel, maar daar is Woensdag binne tien minute meer as ses bakkievragte vullis hier afgelaai. Dié grootmaat vullis moet na die amptelike stortingsterrein op die Reitz-pad (R26) geneem word.

Laesecke wys egter daarop dat dié soort vullisterrein slegs vir tuinvullis aangewend mag word, aangesien streng vereistes bepaal waarvoor so ’n terrein gebruik mag word.

Woensdag is vullis met ’n laaigraaf en ’n vragmotor weggery. Na wat verneem word, is dié voertuie gehuur. Mokgatlhe het toe gesê dat vullis voortaan twee keer per week verwyder sal word en dat R15 miljoen begroot is om onklaar munisipale voertuie te vervang.

Volgens Mokgatlhe is die strategie nie om die terrein heeltemal te sluit nie, maar om dit op te ruim en in stand te hou. Daar word volgens hom ook beplan om 24-uur-sekuriteit by die terrein in te stel.

Daar sal moontlik vier laaigrawe, vier wipbakvragmotors en drie kompakteerdervoertuie aangeskaf moet word. Dié voertuie sal diens doen in al vyf dorpe in die Dihlabeng-munisipaliteit: Bethlehem (Bohlokong en Bakenpark), Clarens (Kgubetswana), Fouriesburg (Mashaeng), Paul Roux (Fateng-Tse-Ntsho) en Rosendal (Mautse).

Volgens Mokgatlhe is die kwessie nie so groot in die ander dorpe wat kleiner as Bethlehem is nie.

Tans het die munisipaliteit volgens Van Niekerk een kompakteerdervoertuig in ’n werkende toestand en word andersins “hulp van buite gekry”.

Die vragmotor wat Woensdag by die stortingsterrein was, is volgens Van Niekerk gehuur. Sy sê dit is noodsaaklik dat wanneer nuwe voertuie aangeskaf word, behoorlike onderhoud gedoen word.

Mokgatlhe het verder gesê dat bestuurders vir die voertuie as ’n voorkomende strategie goed opgelei moet word.

Ook uit Bohlokong en Bakenpark word klagtes ontvang dat vullis nie weekliks verwyder word nie.

Mokgatlhe meen dat dit ook met die nuwe voertuie en toerusting opgelos sal word. Volgens hom sal die voertuie weens die Covid-19-pandemie waarskynlik eers teen einde September aangeskaf word.

Hieroor sê Laesecke sy kry daagliks klagtes oor vullis wat nie in woonbuurte verwyder word nie en sê die gemeenskap kan nie langer wag dat dienste gelewer word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.