Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wat doen jy met jou koppelteken?

Deesdae hoor ons baie van kontrakte.

Daar is die kontrakteurs en kontrakte wat voor die Zondo-kommissie verskyn en die nuus haal.

Daar is tenderkontrakte wat ’n mens jou kop laat skud, en dan is daar natuurlik die kontrakte waarin ons onsself begewe: huwelikskontrakte, huisverbande, dienskontrakte.

’n Stapel papiere wat herinner en aanmaan, vir ingeval ons dalk sou vergeet.

Tussen die kontrakte skuil daar die oorheersende kontrak: Wat maak ek met die een lewe wat ek hier op aarde gegun word?

Versaak ek my passie en talente deur van 08:00 tot 17:00 in ’n kantoor te sit, want ek het my in ’n huisverband begewe? Verruil ek my tyd om langer ure te werk om ’n nuwe motor af te betaal? Verdoem ek ’n week van gesond eet vir ’n Vrydagaand-pizza? Gee ons die ongebondenheid van ons jong getroude lewe prys om kinders te hê? Gaan ek ’n jaar later op pensioen omdat ek my gesin op ’n oorsese vakansie neem?

Jare gelede het ’n dosent die vraag gestel: “As enige maatskappy binne drie maande wettiglik van jou as werknemer ontslae kan raak, waarom het mense huisverbande van 20 jaar?”

’n Ander dosent se raad verskil. “As jy werklik van ’n skildery hou, koop dit, al kan jy dit nie bekostig nie – en dit moet oor ’n hele paar maande afbetaal word.”

Ek het ’n huisverband én skilderye. So ek het darem 50 % reggekry. Of vyftig persent verkeerd gekry, afhangend van hoe mens daarna kyk.

Ongeag ons keuses, stu die lewe voort.

Hoewel die uitkomste van ons besluite onseker is, is een ding wel seker. die onsekerheid van die uitkomste van ons keuses, is een ding seker: Solank ons lewe, word ons ouer. Hoe ouer ons word, hoe meer tyd is daar om oor ons keuses te tob. Dan kies ons hoe ons die stories oor hierdie keuses gaan vertel.

Algaande word die kontrak van keuses, en ons interpretasie daarvan, ons bevryder of ons tronkbewaarder. Ons kan in die donker grot van verwyt vasval, of ons kan na die oase van dankbaarheid ontsnap.

So, dit maak nie saak of jy van Vrydagaand-pizzas en lekker vakansies hou nie. Selfs al buig dit die bank, bly dit jou storie. ’n Storie van plesier en pyn, van uitdagings en oplossings, van hoop en insinkings, van drome en herinneringe.

En welke storie ons kies om te vertel, dit word uiteindelik die kontrak wat in een koppelteken – die een tussen ons geboorte- en sterfdatum – op ons grafstene staan. Wat doen ons met ons een, kort, wonderlike koppelteken-lewe?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.