Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wees in pas met jou eie ritme

Ons is eerstegraadse opsommers van ons lewens. Dan nie? Teen die einde van die jaar word die jaar dikwels in ’n paar woorde verpak. “2019 was ’n goor jaar,” of “2019, my beste jaar ooit.” Met daardie woorde en dalk ’n motiverende stelling oor juis waarom die jaar as sulks beskou word; beweeg ons dan voort na die volgende jaar – wat dan ’n jaar later ook opgesom en verpak word. En eindelik word ons ou mense met opgesomde lewens in boeke getiteld Herinneringe.

Soms lei die opsommings tot nuwe voornemens. Dalk om gesonder, spaarsamiger, betermensig of fikser te wees – meer bedag op die bekruiping van die onverwagse.

Op Oujaarsaand word Herinneringe ’n naslaangids vir die nuwe boek, Ontvouing. Maar is dit altyd die beste naslaangids? Is wie ons geword het nie te veel keer deel van die tralies van wie ons nog altyd gedink het ons was nie? Hoe kan ons die grense breek en Ontvouing ’n gids maak wat eindelik sal eindig in die derde boek van die trilogie, Tevredenheid?

So dikwels wil ons Ontvouing forseer, ons wil ons eie stempels afdruk, ons eie weë baan. En dit is goed, want ons is geskape om strewende wesens te wees. Wat van as ons dalk Herinneringe oopmaak en kyk waar ons reeds Tevredenheid teëgekom het, en met daardie tevredenheid die dans van Ontvouing dans.

Ontvouing. Die boek wat geskryf word deur ’n wonderlike dans, waar die musiek van die lewe jou lei om te weet wanneer jy moet stuur en wanneer jy gestuur moet word.

Wanneer om suutjies te trap en wanneer om te laat waai, en om in pas te wees met die ritme wat vir jou uitgemeet is.

In ’n tyd van voornemens en aksieplanne, is dit dalk ook nodig om net weer stil te word.

En seker te maak jy hoor die musiek wat net jy kan hoor.

Die strelende musiek van Ontvouing.

Mag 2020 vir jou ontvou in die rigting van jou drome.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.