Die oud-Kroonstadter Riaan Denner (30) is gekies vir die nasionale sweeftuigspan wat later vanjaar aan die wêreldkampioenskap in Stendal, Duitsland, gaan deelneem.
Denner en sy mede-sweeftuigvlieënier Jason Adriaan sal van 10 tot 31 Julie in die tweesitplek-afdeling van die wêreldbyeenkoms meeding.
Denner woon deesdae in Parys en werk in Potchefstroom.
In Desember verlede jaar het hy aan die nasionale sweeftuigkompetisie – wat oor agt dae in Welkom plaasgevind het – deelgeneem. Sy teenstanders was voormalige wêreldkampioene en oorsese vlieëniers.
Nuwe opdragte is daagliks aan al die vlieëniers gegee, en dit moes volgens spesifieke instruksies uitgevoer word.
Vlieëniers se uitslae is deur hul spoed bepaal.
Denner het op 16-jarige ouderdom dié sportsoort begin beoefen, en reeds op skool sy sweeftuiglisensie gekry. Sedertdien het hy homself as ’n sweeftuiginstrukteur gekwalifiseer.
Hy is die afgelope agt jaar ’n instrukteur wat vlieëniers van Kroonstad, Potchefstroom, Springs en Vaal Reefs oplei.
In Mei 2019 het hy saam met Arjan Schaap, ’n bekende in sweeftuigkringe, in die tweesitplek-afdeling van die Gautengse streekkompetisie deelgeneem.
Dié twee het ook in Oktober en Desember 2019 in die nasionale sweeftuigbyeenkoms meegeding.
Verlede jaar in September het Denner in die eensitplek-afdeling van die streekkompetisie in Gauteng deelgeneem, waar hy teen strawwe mededingers goed gevaar het.
“Ons werk nou hard vir die wêreldbyeenkoms,” sê Denner.
“Ek glo dit is enige vlieënier se droom om as wêreldkampioen gekroon te word.”