Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wintertuin fraaier met dié vetplante

Baie vetplante se vlesige blare verdiep tot gloeiende kleurtinte, of die plante blom geil, in die winter.

Ander se “wollerige” dofgrys loofkleure skitter eensklaps sommer helderder en amper metaalagtig en gee die gevoel van koesterende fluweel wanneer dit so koud is buite. Ook hulle stoot delikate blom­stele uit.

In die spoggerige genus kalanchoe (plakkies), ’n groep vetplante afkomstig van tropiese Afrika en Madagaskar, is al dié begeerlike eienskappe te kry.

Ses van die bestes vir jou tuin

  • Kalanchoe thyrsiflora(geel­plakkie) vorm rosette met groot, grysgroen blare met rooi rande wat soos die boeke van ’n kon­sertina agter mekaar gevou sit en so groot soos groot sopborde word.

Elke roset produseer een regop, bleekwit blomsteel van tot 1,5 m hoog met subtiel gegeurde geel blomritse.

Die oorspronklike roset vrek nadat die plant geblom het, maar word vervang deur plantjies of uitloopsels wat rondom die moederplant vorm.

Die lang blomstele se blommetjies is vol nektar, wat onweerstaanbaar vir suikerbekkies is.

  • Kalanchoe pumilais ’n oulike en tekkietaai grondbedekker met grys blare (wat lyk asof daar ’n poeieragtige bedekking op is) wat soms ’n perserige skynsel het.

Trossies lila tot perspienk blommetjies komplementeer die ligte loof in die winter en vroeë lente. Pumila groei ook pragtig in potte.

  • Kalanchoe beharensis (donkie-oor) is ’n opvallende struik wat in sy natuurlike habitat tot 5 m hoog word. Die plant het groot, vlesige, grysgroen blare met getande rande wat oortrek is met growwe hare.

Die blomme word in trosse aan regop stele gedra, geel tot groen aan die buitekant en perserig binne.

  • Kalanchoe orgyalis (koperlepels) word ’n groot struik vol vilterige, dofbruin ovaalvormige blare wat onder silwergrys is. Nuwe groei verander in ’n goue brons.

Dit is ’n dramatiese aksentplant om tussen ander vetplante te plant. Die plant hou van oggendson en namiddagskadu, soos die meeste ander kalanchoes. Goudgeel blommetjies verskyn in trossies in die winter en in die lente.

  • Kalanchoe sexangularis (rooiblaarplakkie) vorm ’n meerstammige struikie van tot 1 m hoog. Die donkergroen, gekartelde blare word in die winter ’n ryk boer­gonjerooi, wat dit laat uitstaan.

Die geel blommetjies wat in die winter en lente verskyn, steek mooi af teen hierdie donker loof.

Gebruik die rooiblaarplakkie as ’n vullerplant in ’n rots- of klippietuin.

  • Kalanchoe “Tessa” is ’n hibried met helderrooi, buisvormige blommetjies wat aan die punte van dun stele gedra word.

Dit het ’n spreidende groeiwyse wat dit perfek maak as grond­bedekker op die voorgrond van ’n vetplantbedding.

Dit is ook ’n wenner vir ’n hangmandjie en ’n vensterboks op die stoep.

  • Kalanchoe blossfeldiana (Flaming Katy) is ’n uiters gewilde potplant oor die wêreld heen.

Baie hibriede van dié plant word in vensterbokse, in potte of buitenshuis (in warmer klimate) geplant. Daar is ’n magdom verskillende kleure op die mark – sommige baie helder, ander subtieler, soos wit en liggeel.

’n Vorm met dubbelblomme word onder die naam “calandiva” verkoop.

Algemene kweekgebooie

  • Plant in vol- of oggendson.
  • Die grond moet goed dreineer.
  • Dit word maklik van steggies gekweek.
  • Verwyder altyd ou blomme en blomstele wat afgeblom het.
  • Gee plante in houers gereeld water, maar hou maar ’n bietjie terug in die tuin.
  • Omdat plakkies meestal uit tropiese en subtropiese wêrelddele kom, is hulle nie bestand teen ryp of baie lae temperature nie.

Anna Celliers, Netwerk24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.