Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ysige geplons pret

Talle mense het Saterdag (07/07) in die middel van die winter kans gesien om die ysige water op die plaas Arpa, naby Fouriesburg, aan te durf vir die C2 Polar Bear Plunge-geleentheid.

Jan Sander, ’n dierewelsyn­assistent by die Cluny-dieretrust, het gesê dit was dié jaar beslis die koudste nog, as ’n mens die afgelope sewe jaar wat die geleentheid al aangebied word, oorweeg.

“Die water se temperatuur was onder 5 °C,” het Sander gesê.

Die geleentheid is ten bate van die Cluny-dieretrust en die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) gehou. Dit is die eerste keer dat KANSA en die Cluny-dieretrust kragte saamgesnoer het.

“Ons is twee niewinsgewende organisasies met verskillende visies, maar ons het besef ons moet saam werk om sukses te bereik,” het Sonet Terblans van KANSA gesê.

Sowat 40 mense, wat van so ver soos Bloemfontein gereis het, het in groepe van ses tot agt deelnemers opgedeel om 30 m in die ysige water te swem. Hulle kon in die laaste 20 m opstaan en uit die water loop, tot by vure en ’n sopie sjerrie om hulle weer warm te maak.

Elke deelnemer het ’n medalje en ook ’n T-hemp ontvang waarop staan: “I survived”.

Volgens Terblans was daar geen reëls oor wat deelnemers aantrek nie. Sommige van die deelnemers het met pers swembroeke geswem vir bewusmaking oor prostaat­kanker. Rudi Halgryn, ’n omroeper by MalutiFM, het glo ’n “wol-Speedo” aangetrek en deur die week ’n paar koue storte gevat om sy hart op die koue water voor te berei.

“My doelwit was net om so gou moontlik uit die water te kom,” het Halgryn gesê.

Vir Thelma de Wet van Reitz was dit die lekkerste gevoel om, nadat sy geswem het, te kan sê sy leef voluit.

Kallie Kriel van Reitz het ’n tweede keer deelgeneem.

“Dit was definitief kouer as laas jaar. Ek het vanjaar ’n pyn in my nek gekry, wat nie laas jaar gebeur het nie,” het hy gesê.

Nadat die Cluny-dieretrust sy doelwit met geldinsameling behaal het, het sommige van sy werknemers se hare gewaai, soos vooraf ooreengekom, sodat dit vir KANSA geskenk kon word.

Die Cluny-dieretrust is in Februarie 2011 gestig om mense wat nie veeartse kan bekostig nie te bedien. Dit is ’n mobiele eenheid wat poog om die lyding van diere te verhoed en om eienaars oor dieresorg op te voed.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) was ook op die geleentheid om bloed in te samel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vrystaat Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.