Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Genoeg is genoeg!’

Genoeg is genoeg! Hou julle hande van ons kinders en vroue af!

Dié uitroep vir die terugkeer van die doodstraf word al harder en kan nie meer langer geïgnoreer word nie, het plaaslike inwoners aan Weskus Nuus gesê.

Die uitroep volg ná ’n rits moorde op vroue en kinders die afgelope tyd oor die land heen. Terwyl onskuldige kinders en vroue se bloed die land bevlek, het verskeie organisasies hul tot die strate gewend om gehoor te word. Inwoners en kinders van Atlantis het ook hul stem by die res van Suid-Afrika gevoeg dat iets drasties gedoen moet word om vroue en kinders te beskerm. Inwoners het Saterdag die strate ingevaar om hul misnoeë uit te spreek.

Ronald Lamola, minister van justisie en Maite Nkoana-Mashabane, minister vir vroue in die presidensie, het Dinsdag 3 September op ’n nuus-konferensie belowe dat hulle Suid-Afri­kaners se hulpkrete vir ’n referendum sodat die doodstraf moet terugkeer na die kabinet sal neem.

“Dit is nie ’n besluit wat ek alleen kan neem nie, maar kan dit vir goed­keu­ring of afkeuring na die kabinet neem,” het hy gesê.

Volgens Lamola kan die vervolgings­gesag en howe nie alleen ’n einde aan geslagsgeweld bring nie, maar almal, veral mans, moet ook hul deel doen.

Nkoana-Mashabane het aan die media gesê genoeg is genoeg: “Ons is siek en sat om te hoor van vroue wat in hul huise, kerke en as hulle in die strate stap, vermoor word.”

Atlantis-polisie en verskeie kerkleiers het Sondag ook hul stemme by die res gevoeg. Met 500 mense wat die biddag by Dollies-sentrum bygewoon het, was die boodskap duidelik dat gebed beslis ’n verskil in Atlantis kan maak, het verskeie sprekers gesê.

Volgens Moira Patrick, van die kinderregtegroep Molo Songololo, moet die doodstraf weer terugkeer sodat mans kan sien en besef wat hulle doen is verkeerd. Sy sê voorts “kinders en vroue is nêrens veilig nie en dit is kommerwekkend dat ons nie weet wat wag op ons om die volgende draai nie”.

Volgens Dean Goliath, bestuurder van Radio Atlantis, het die apartheids-regering die doodstraf uitgebuit om ­aktiviste en stryders teen die destydse regering te straf. Hy sê voorts teen die barbaarse manier hoe vroue en kinders vermoor word, moet die doodstraf weer ingestel word.

Volgens raadslid, Allister Lightburn, faal die regstelsel vroue en kinders en moet dit hersien word. Die doodstraf gaan nie noodwendig ’n einde aan dié soort misdaad bring nie en onskuldige mense kan ook hul lewe daardeur verloor. “Lewenslange tronkstraf sonder parool vir mense wat hul skuldig maak aan dade teen vroue en kinders, is dalk ’n opsie,” het hy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weskus Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.