Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gesnoep ná al die betalings

Mense wat heeljaar aan ’n lekkergoedgeskenkpak betaal het, is woedend omdat hulle kinders die feestyd “droë mond” moes sit.

Meer as 250 mense het maandeliks R100 aan die broers, Faizel en Abdurauf Hendricks, betaal vir die beloofde lekkergoed wat in Desember oorhandig sou word.

Ontstelde inwoners het behoorlik gal gebraak omdat die lekkergoed nooit opgedaag het nie.

Volgens Nicole Davids het sy elke maand stiptelik betaal omdat sy nie in Desember ekstra geld aan lekkernye wou uitgee nie. Davids sê haar twee kinders het die hele feestyd “droë mond gesit” omdat die broers glo nie hulle ooreenkoms nagekom het nie. Die ooreengekomde afleweringsdatum vir die lekkergoed was op 15 Desember.

Ná ’n klomp beloftes en verskonings het Davids nie haar lekkers gekry nie, maar sy is R250 van haar geld terug­betaal. Kashiefa Prins vertel woedend dat die broers ’n klein pakkie met Bubbles en Fusion-chips aan haar wou “afsmeer”, maar sy het geweier om dit te vat aangesien daar Coke en Lays belowe was.

Volgens Natasha Leibrand wat namens Faizel en Abdurauf Hendricks kliënte vir dié lekkergoed gewerf het, kan sy nie haar vriende in die oë kyk nie, want die mense wag steeds op hul lekkergoed.

Sy vertel dat lekkergoedpakkies wel by haar afgelewer is, maar dat sy dit geweier het aangesien dit nie die produkte bevat wat beloof is nie.

Lee-Ann Abrahams van Protea Park het meer as 20 lekkergoedpakke bestel en sê haar kliënte wou ook nie dié goedkoper lekkergoed hê nie.

“Ek sit reeds meer as twee weke met die goed en die Hendricks-broers weier om dit te kom haal,” vertel sy.

Volgens die broers, wat vermoedelik meer as R250 000 vir die lekkergoed-bestellings ontvang het, het hulle reeds meeste van die ongelukkige kliënte met die lekkergoed “uitgesorteer”.

“Ons het probleme wat binnekort opgelos sal wees,” het die twee aan Weskus Nuus verduidelik.

“Daar is nog baie uitstaande geld wat nog moet inkom en dan sal almal hul beloofde lekkergoed kry. Alles behoort teen einde Januarie afgehandel te wees,” meen hulle.

Volgens ’n betroubare bron is dié verduideliking van die broers net ’n “storie” om gemoedere te kalmeer.

Dié bron beweer kliënte se geld is op “skelmpies en motors” gebruik en nou sukkel die broers om hul beloftes na te kom. Die broers is bewus van hierdie aantygings en meen hulle naam word nou onnodig beswadder.

Kliënte wat met Weskus Nuus gesels het sê hulle soek hul geld terug.

Teen druktyd is nog geen geld of lekkergoed aan ongelukkige kliënte terugbetaal nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak WeskusNuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.