Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jordan se lewe kortgeknip

Die Atlantis-gemeen­skap is Saterdagog­gend geruk soos nuus versprei het oor die sinnelose grumoord op die 16-jarige Jordan Moore van Hungrytown.

Jordan se oupa, John Hulbert, het aan Netwerk24 gesê sy kleinseun het by sy neef gekuier en het saam met dié familielid en nog ’n vriend in die park gesit toe twee mans hulle glo met ’n vuurwapen gedreig het om vir hulle bier by ’n sjebeen te gaan koop. “Ek glo nie hulle het die sjebeen gehaal toe die kinders aangeval is nie,” het Hulbert gesê.

Volgens kapt. Liza Munro, Atlantis-polisiewoordvoerder, het Moore en twee vriende vermoedelik geloop toe hulle deur mans met honde gekonfronteer is. Volgens Munro word daar vermoed dat die mans die honde op die jongspan gesit het en die maats het in verskillende rigtings laat spaander.

Die ander twee seuns het weggekom en hulp gaan soek. Met hulle terugkeer na die toneel was Jordan reeds dood. Sy lyk is op ’n oop veld in Rietsangerlaan ontdek.

Moore het verskeie wonde aan sy gesig, nek en bors gehad en die vermoede is dat hy gesteek is en ook deur honde gebyt is. Kol. André Traut, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Netwerk24 bevestig dat daar bytwonde aan Moore se lyf was. ’n Lykskouing sal gehou word om die oorsaak van sy dood te bevestig.

Die foto’s van twee mans wat na bewering by Moore se moord betrokke is, word wyd op sosiale media versprei.

Volgens ’n polisiebron word twee verdagtes tans ondervra nadat bebloede klere en ’n gesteelde selfoon by ’n woning gevind is.

Dié mans het vanoggend (Dinsdag) in die plaaslike hof verskyn op aanklag wat verband hou met die besit van gesteelde goedere.

Volgens Munro kan sy nie kommentaar lewer oor die mans se beweerde betrokkenheid by die moord nie aangesien DNS-toetse gedoen moet word om te bepaal of dit wel Moore se bloed is op die klere en kan die mans in dié stadium nie met die moord verbind word nie.

Intussen sê politieke leiers dit was een moord te veel. “Die feit dat ’n onskuldige kind se lewe so kort geknip moes word, is onaanvaarbaar. Jordan het gedoen wat enige kind van sy ouderdom doen en het nie in die verkeerde dinge van die lewe belanggestel nie,” het Allister Lightburn, proporsionele raadslid en jeugwerker gesê.

Moore was ’n gr. 10-leerder aan Hoërskool Robinvale. In ’n plasing op sosiale media het die skool gesê woorde is nie genoeg om te beskryf hoe die skoolgemeenskap voel oor sy tragiese sterfte nie en het ook ’n gedig aan hom opgedra. Die skoolhoof Vaugh Murray beskryf Moore as ’n lieflike kind wat nooit sy onderwysers enige probleme gegee het nie. • Mense met inligting oor die voorval kan Stop Misdaad by 08600 10111 skakel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak WeskusNuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.