Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jong vrou vermoor ná 'stormagtige verhouding'

Hy kon dit nie oor sy hart kry dat sy niks meer met hom te doen wou hê nie en het na bewering besluit om haar te vermoor.

Dié uiterste reaksie het glo tot die dood van Charné Viljoen gelei.

Lede van die gemeenskap het Woensdag (5 Mei) buite die Atlantis-hof opgeruk vir die eerste verskyning van die vermeende moordenaar.

Die betogers by die hof meen indien die polisie dié verdagte in verband met ’n vroeëre mes-aanval aangekeer het, sou Charné dalk nog geleef het.

“Stormagtige verhouding”

Die 21-jarige Charné het glo aanbeweeg ná ’n vier jaar lange stormagtige verhouding met die verdagte. Haar familie is steeds geskok en verbitterd dat die pa van haar tweejarige babaseun ná haar moord verlede Maandag (3 Mei) aangekeer is.

Volgens Nico Viljoen, oupa van die oorledene, moes die moordenaar hul huis dopgehou het.

Hy sê sy kleindogter was soos ’n gevangene in die huis nadat die verdagte haar nuwe kêrel sowat twee weke gelede met ’n mes aangeval het.

Dié jongman is sewe steekwonde toegedien, vertel die hartseer oupa.

“Ons het nooit geweet hy mishandel haar nie. Ons het eers onlangs uitgevind toe bure hoor hoe hy haar met die dood dreig as sy iemand anders sien,” verduidelik die oupa.

Op die sypaadjie gelaat

Volgens Eloise Damons is haar niggie op die noodlottige dag na die plaaslike winkelsentrum om koeldrank te gaan koop.

Charné het egter te min geld gehad en moes terugdraai huis toe.

“Toe ek op pad terug was, het Charné met nog geld aangestap gekom en ek het gevra hoekom sy teruggekom het aangesien haar gewese kêrel altyd in die omgewing is,” vertel Damons.

“Sy was baie seker hy sou haar nie seermaak nie. Ek het haar gevra om eerder om te draai, maar sy wou nie en ons het net uit die winkel gekom toe die gemors aangehardloop kom en haar gryp.”

Dit blyk Damons se instinkte was reg.

“Hy wou met alle mag weet of sy met haar (nuwe) kêrel gaan trou en het ’n mes teen haar keel gehou. Sy het by hom gesoebat om haar te los, maar die skurk wou niks weet en hulle twee het gestoei waarna sy losgeruk het om weg te kom. Hy het haar van agter gegryp en probeer keelaf sny,” vertel Damons terwyl sy wys na die plek waar haar gunsteling-niggie gelê het.

“Ek het by die kerk langs die winkel ingehardloop vir hulp, maar toe ons uitkom was hy weg terwyl sy daar gelê het met bloed wat vrylik vloei.”

Gemeenskapslede het by die hof teen borgtog vir die verdagte betoog. Hulle wou weet hoekom die verdagte nog op vrye voet kon wees.

“Vir te lank staan en huil ons nou voor die hof. Meer mense sal moet betrokke raak,” meen Joseph Witbooi, ’n proporsionele raadslid.

Volgens Janine Passenz van die organisasie Survivors Haven, word amptenare en polisiebeamptes kwaad wanneer vrae gevra word. “Hulle doen nie die gemeenskap ’n guns nie – dis hul werk,” sê sy.

“Elke keer moet ons voor die hof kom staan en ons weet nie wie is volgende nie. Die hof en die polisie moet tot orde geroep word,” meen Passenz.

Verdagte aangekeer

Volgens Kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, is die verdagte op die dag van Viljoen se moord aangekeer. ’n Klagte van moord en poging tot moord word nou ondersoek.

Munro het verduidelik die klag van poging tot moord, op Viljoen se nuwe kêrel, is eers op 30 April aangemeld.

Sy het bygevoeg die verdagte het nie ’n permanente adres nie, wat beteken het die polisie moes by verskeie adresse na hom gaan soek.

*Weskus Nuus het die oorspronklike kop van dié berig verander vir duidelikheid. Die oorledene is in die nek en bors gesteek en nie keel-af afgesny soos aanvanklik gestel nie. - Dinsdag, 11 Mei 2021, Red.

.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak WeskusNuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.