Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ontsnapte gevangenes almal terug in tronk

’n Reusesoektog is Vrydagmiddag (24 Julie) van stapel gestuur nadat 69 gevangenes omstreeks 12:15 uit die ou Malmesbury-tronk (medium B-gevangenis) ontsnap het.

Die gevangenes was almal verhoorafwagtend.

Volgens inligting is ’n Hyundai-afleweringsvoertuig met ’n Paarl-registrasienommer ook in die proses gekaap in ’n poging van een van die gevangenes om te vlug. Die aflewerings­voertuig is by die laagbrug naby die Amandelrug-pad teruggevind.

Minstens 63 voortvlugtiges is teen Vrydagaand weer in hegtenis geneem, het Delekile Klaas, streekskommissaris van die departement van korrektiewe dienste die middag op die toneel aan media bevestig. Teen Saterdagoggend is nog drie aangekeer.

Beamptes van die polisie en korrektiewe dienste tesame met ’n taakspan en sekerheidsgroepe het na die oorblywende voortvlugtiges gesoek. ’n Helikopter is ook ingespan.

Klaas het gesê beamptes van die departement korrektiewe dienste het ’n oefensessie aan gevangenes aangebied toe hulle deur ’n groep van hulle oorrompel is. Hulle het die beamptes se sleutels afgevat en drie beamptes in ’n tronksel toegesluit.

Die voortvlugtiges het toe van die ander tronkselle oopgesluit. Hulle het deur die hoofingang en die dak ontsnap. Nege beamptes het ligte beserings opgedoen. Van die voortvlugtiges wat hulle teen inhegtenisnemings verset het, is ook beseer.

Die voortvlugtiges wat intussen weer in hegtenis geneem is, is intussen na ander tronke buite Malmesbury uitgeplaas. ’n Aantal probleemmakers sal na ’n maksimumgevangenis in die streek oorgeplaas word.

Die departement het die voorval ten sterkste veroordeel. ’n Ondersoek is ingestel. Ten tye van die voorval was daar altesaam 451 gevangenes in die gevangenis met 20 beamptes aan diens.

Intussen het die polisie ook die gemeenskap bedank vir hul hulp en samewerking wat daartoe gelei het dat meeste van die voortvlugtiges weer vasgetrek is. Teen druktyd was almal weer veilig agter tralies. – Swartland Gazette

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak WeskusNuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.