Dit is op 14 Februarie Valentynsdag, ’n dag waarop geliefdes tradisioneel hul liefde aan mekaar bewys deur geskenke, blomme of kaartjies uit te ruil.
Die geskiedenis van dié tradisie was egter nie alles maanskyn en rose nie en min mense weet egter van die bloedige oorsprong van die dag. Hoewel daar tans baie onsekerheid oor die ontstaan van dié tradisie heers, word algemeen aanvaar dat Valentynsdag na een van verskeie Christelike martelaars met die naam Valentyn genoem is. Een van dié heiliges is in die jaar 269 om die lewe gebring en langs die Via Flamina (’n belangrike Romeinse pad van Rome na die Ooskus van Italië) begrawe.
’n Ander is ongeveer dieselfde tyd deur dieselfde lot getref. In die jaar 496 het pous Gelasius I die dag tot die dag van die Heilige Valentyn verklaar. Die viering van Valentynsdag op 14 Februarie vind ook plaas met die fees van Lupercalia wat tussen 13 en 15 Februarie deur die Romeine gevier is met die doel om bose geeste te verdryf, Rome te reinig en vrugbaarheid te bewerkstellig.
Deesdae word die dag egter gekenmerk deur veral die uitruil van kaartjies. Esther Howland, ’n Amerikaanse sakevrou en kunstenaar, word gereken as die persoon wat Valentynsdagkaartjies in die 1840’s gewild gemaak het oor Amerika heen deur die eerste massavervaardigde kaartjies te laat druk.