Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vervolgverhaal: Verlore ster, hoofstuk 7

Johnny Magic en Zane Gevaarlik is twee talentvolle sokkerspelers wat groot drome het om eendag op Old Trafford sokker te speel. Magic word aan een van die dorp se gevreesde leiers, Mr. Money, voorgestel en dié laat Magic die eerste keer kennis maak met ’n vuurwapen, waarvoor Magic ’n liefde ontwikkel. Geld is skielik nie ’n probleem nie.

Sy ouers, Aunty Maggy en Oom Zaal, lewe soos kluisenaars omdat hulle te bang is om ’n voet buite te sit.

Magic word op die moordtoneel van Dimpels deur ’n buurvrou herken. Magic moet besluit of hy gaan man staan, maar ’n aanslag op sy ouers se lewe laat hom anders besluit. Lees nou verder.

Flip sit byna die hele nag met Magic, maar dié weier om met die gesoute speurder te praat behalwe dat hy wel die moord gepleeg het.

“Kyk ek weet presies wat jou base se planne met jou is,” probeer Flip weer.

Magic is min gespin en het klaar sy mind opgemaak.

“Praat jy maar jou mond warm,” sê hy vir homself.

Flip besef hy moet versigtig te werk gaan, want dit gaan ’n harde neut wees om te kraak, “maar kraak gaan ek hom kraak,” belowe hy homself.

Mr. Money en Zane is ook hard besig om planne te maak, want hulle weet nie wat Magic gaan doen nie en wil voorbereid wees.

“Ons sal eers moet laag lê en jy sal moet hof toe gaan om te luister wat klap so,” sê Mr. Money en druk ’n rol note in Gevaarlik se hande.

“Jy moet sy bail betaal, want ons kan nie bekostig dat daai gatta hom langer binne hou nie,” raas Mr. Money.

Flip weet dat as Magic borgtog gaan kry, is dit tickets met hom en reël met kapt. Vonnie om borgtog teen te staan sodat die saak sy gang kan gaan.

Aunty Maggy bars in trane uit in die hof toe die landdros borgtog aan haar kind weier. Zane storm die dag by die hof uit om die slegte nuus aan sy leier oor te dra.

Flip stel Aunty Maggy gerus dat Magic beter af sal wees in die gevangenis, want dit mag dalk die enigste plek wees waar hy veilig is.

Flip gooi ’n troefkaart na Magic uit, maar dié stel nie juis belang.

“Luister boet, jy kan wegstap van al die moorde wat jy al gepleeg het as jy saam my sal werk.

“Ek belowe dat jy nie een dag langer in die tronk sal wees, maar dan moet jy bereid wees om teen jou leier te getuig,” gooi Flip ’n emmer koue water oor Magic.

“ Is jy mal?!” skree Magic, “ek is so goed soos dood. Gaan jy my aankla of wat?”

“Luister boeta, jy het nie ’n kans teen jou leier nie behalwe as daar ander is wat jou kop soek. So, dink aan jou ma en pa voordat dit te laat is,” kap Flip half ongeduldig terug.

Magic weet dat sy ouers niks met sy dinge te doen het nie en hy sal hulle moet beskerm.

Hy maak sy mind op.

Die volgende oggend is Flip vroeg by die selle met slegte nuus vir Magic.

“Jou ma en pa is altwee geskiet, maar het gelukkig die aanval oorleef. Hulle is in ’n hospitaal waar niemand weet nie. Ons sal moet wikkel, want dit sal nie lank wees voordat die skurke uitvind waar hulle is nie.”

Magic sit met trane in sy oë en weet hy is verantwoordelik vir dit wat met sy ouers gebeur het.

Flip verduidelik aan hom hoe dit werk as jy ’n Artikel 204-getuie word.

“Onthou dat jy net die waarheid moet praat, want as die regter jou nie glo is dit tickets met jou.

“Ek reël met die hospitaal dat jou ouers na ’n ander provinsie oorge­plaas word en jy sal ook die Atlantis-stof moet afskud, want ek dink nie jy sal die plek weer sien,” sê Flip.

Die polisieman het al die nodige reëlings getref en nie eers kapt. Vonnie het geweet dat Magic in ’n beskermingsprogram is.

Hoe minder mense weet hoe veiliger sal die hoofgetuie wees, sê Flip vir homself.

Dit het byna twee weke geneem om al die verklarings te neem, maar Flip stap tevrede na sy baas met die dossier wat dikker as ’n foonboek is.

In die volgende hoofstuk sing Magic soos ’n kanarie en laat almal stom. Hou Weskus Nuus dop vir die volgende hoofstuk in Magic se verhaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weskus Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.