Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Waarheen verdwyn ons Sassa-geld?’

“Iemand steel van ons oumense se pensioengeld”, sê bejaardes van Atlantis nadat Weskus Nuus met talle klagtes rakende staatstoelae oorval is.

Volgens Patrick Nefdt (79) kan niemand aan hom verduidelik waarom sy Sassa-toelaag elke maand verskil nie.

“Ek moet R1 710 kry, maar die bedrag wat ek ontvang is nooit dieselfde nie,” sê hy. Nefdt het ’n klomp van sy onttrekkingsbewyse aan Weskus Nuus gegee wat bewys dat die geld wat hy elke maand ontvang, inderdaad elke maand verskil.

Nefdt meen baie mense dink R50 is kleingeld, maar “as R50 van elke begunstigde wegraak en daar is ongeveer 17 miljoen van hulle, dan praat ons van baie geld,” het hy verduidelik.

Weskus Nuus het op die Sassa se Facebook-blad gaan snuffel en ontdek dat geld wat “wegraak” ’n nasionale probleem is. Talle mense kla daaroor en eis antwoorde.

“Ek is al moeg daarvan om te hoor hulle gaan dit ondersoek,” sê Nefdt.

Nefdt het al verklarings by die polisie gaan aflê, wat hy ook aan Weskus Nuus gewys het “maar steeds kan niemand vir my verduidelik waarheen my geld verdwyn nie.”

Sophie Williams (81) is ook raadop met haar geld wat elke maand glo wegraak. “Sassa het nooit die regte antwoord nie. Ek het al moed opgegee,” het sy gesê.

Volgens Shivani Wahab, senior bestuurder: Kommunikasie by Sassa, is die ouderdomstoelaag R1 690 per maand vir mense ouer as 60 en R1 710 vir bejaardes 75 jaar en ouer.

Wahab meen die aftrekkings is dalk bankkoste wat verhaal word met elke transaksie.

“Dit is standaard indien jy ’n privaat bankrekening gebruik en transaksies doen by ’n OTM.

“Dit kan ook wees dat begunstigdes steeds die ou Sassa-kaarte gebruik en daar mag dalk ander aftrekkings wees. “Ons moedig graag alle begunstigdes wat steeds die ou kaarte gebruik om dit vir die goudkleurige Sassa-kaart te verruil,” het Wahab gesê.

Die voordele van die nuwe kaarte sluit in: Een gratis onttrekking by die poskantoor en geen onwettige aftrekkings.

. Die Suid-Afrikaanse instituut vir rasseverhoudinge se jongste opname in 2016 wys daar is tans meer mense wat ’n toelaag ontvang as wat daar werkendes in die land is.

Volgens ontleder Gerbrandt van Heerden was daar in die tyd van die opname sowat 15 545 000 mense met werk in Suid-Afrika, terwyl 17 094 331 maatskaplike toelaes ontvang het.

Hy sê verder die opname het getoon dat 12 494 000 Suid-Afrikaners in 2001 ’n werk gehad het, terwyl slegs 3 993 133 mense van staatstoelae afhanklik was.

Dit vergelyk met ’n toename van 328% in die aantal mense wat staatstoelae ontvang, terwyl dié met werk met slegs 24% toegeneem het. Sowat elf miljoen van die mense wat ’n toelaag ontvang, is minderjarig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weskus Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.