Young Hearts het Saterdag op die grafkelder gewys dat hy beslis weer die seisoen ’n span is wat nie ligtelik opgeneem kan word.
Young Hearts het in sy eerste voorbereidingswedstryd van die seisoen Lillies van Abbotsdale met 35-21 geklop nadat die span rustyd met 17-14 voor was.
Die tuisspan het reeds in die eerste minuut met spoed en goeie balvaardigheid ’n verdoelde drie behaal. Lillies, wat verlede seisoen tweede in die Swartlandstreek ná Darling geëindig het en Wesbank twee keer geklop het, het egter nooit opgegee nie en het een aanval na die ander van stapel gestuur.
Reuben Abels, uitgeslape afrigter van die tuisspan, het egter sy huiswerk gedoen en die tuisspan se verdediging was iets om te aanskou. Young Hearts se verdediging was wel iets vir die oog, maar die span se spoed en balvaardigheid het die besoekers meeste van die tyd in die lig laat gryp.
Die span se dissipline kort nog heelwat skaafwerk en met dit uitgestryk sal die span van Pella weer ’n doring in die vlees vir groter spanne wees. Lillies het ná 20 minute gewys dat die span ook beter sal moet kommunikeer toe hy twee verdoelde drieë kort na mekaar behaal het.
Pella se agterlyn met die kaptein en losskakel, Aldo Booysen, aan die spits was vlymskerp en het met goeie beweegruimte meters veld gewen. Jade Solomons het ook weer maklik by die span se patroon ingepas nadat hy verlede seisoen vir Langebaan uitgedraf het.
Die vlugvoetige heelagter is weer ná ’n seisoen in die Weskus terug waar hy hoort en was gou weer ’n gunsteling van die skare.
Met Barry Solomons aan sy buitekant het dié twee Lillies se verdediging aan flarde geskeur met hul lopies en spoed tot groot vermaak van die skare. Young Hearts het met twee onverdoelde drieë voor rustyd geantwoord.
Lillies het nooit opgegee nie en het vir 80 minute baie vrae aan die tuisspan gevra, maar die tuisspan het ’n antwoord op elke vraag gehad. Die tuisspan het nog beter in die tweede helfte vertoon en het self vrae aan die besoekers gevra wat die span nie kon beantwoord nie.
Die besoekers kon slegs een verdoelde drie in die laaste 40 minute by sy telling voeg terwyl die tuisspan 18 punte bygevoeg het om die wedstryd maklik te wen.