Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
2019-nuus in ’n oogopslag

Die Weskus het vanjaar vele nuusgebeure gehad. Weslander se span lig ’n paar hoogtepunte uit.

17 Januarie: Die dodetal op Weskus-paaie daal aansienlik danksy gesamentlike wetstoepassingsinisiatiewe. Vir hoofroetes R27 (Weskuspad), R45 en N7 word geen sterftes aangemeld nie, maar wel ses sterftes op ander roetes.

31 Januarie: Tietiesbaai-strandoord is steeds nie veilig vir besoekers nie. Verskeie voorvalle word die vakansietydperk aangemeld met talle besoekers wat sê hulle sal dié munisipale strandoord nie weer besoek voor veiligheid verskerp word nie. Die Saldanhabaai-munisipaliteit sê dit is ’n uitdaging omdat kwaaddoeners toegang verkry deur die Columbine-natuurreservaat of hulle as vakansiegangers voordoen. 31 Januarie: Kropz sê hy is optimisties oor die Elandsfonteinmyn se vooruitsigte en volgens plan sal die myn teen die einde van 2019 operasioneel wees. Die eerste watertribunaal is 12 Desember in Kaapstad gehou.

Die West Coast Environmental Protection Association het dié saak voor die departement omgewingsake gebring. Die organisasie voer aan die myn het nie die regte prosedure gevolg om sy waterlisensie te kry nie en vra dat die departement dit hersien.

Volgens inligting is die vooruitsig dat die myn glo einde 2020 operasioneel sal wees.

7 Februarie: Weslander berig dat die St. Helenabaai-padkruising ondersoek word ná nog ’n botsing. Hierdie ondersoek, en oplossings vir die Jacobsbaai-, Hopefield- en Langebaan-padkruisings, duur steeds voort.

21 Februarie: Wolfgat in Paternoster word as restaurant van die jaar by die World Restaurant-toekennings in Parys, Frankryk, aangewys.

28 Februarie: Die moord op die “sagmoedige” bejaarde Pierre Jean (Lange) Loubser skok Velddrif. ’n Vriend het sy lyk in die slaapkamer aangetref nadat Loubser nie vir ’n gholf-afspraak opgedaag het nie. Jonathan Swartz verskyn tans in die hof op aanklag van dié moord.

7 Maart: Weslander berig dat die padwerk by Saldanha en Vredenburg dalk vroeër voltooi sal word as wat beplan is. Die sirkel by die R399 en R559 tussen Langebaan en Saldanha is in Oktober amptelik geopen.

14 Maart: Ontwikkeling is aan die gang in Vredenburg vir ’n nuwe gesondheidsentrum. Die fasiliteit, wat teen sowat R70 miljoen opgerig word, gaan omvattende primêre gesondheid­sorgdienste aanbied. Die beplande kliniek sal na verwagting teen 2021 gereed wees vir die eerste pasiënte.

21 Maart: Opgraderingswerk aan die provinsiale hospitaal is ná 16 jaar en R172 miljoen afgehandel.

11 April: Redelinghuys ondervind groot probleme met selfoonseine en internettoegang sedert die NG kerkgebou Dinsdag 9 April deur ’n brand vernietig is. Die dorp se enigste selfoontoring wat in die kerktoring was, het saam met die kerkgebou tot niet gegaan.

25 April: Saldanha-rugbyklub verniel die koringboere se oes in die tweede Saldanha/Transnet-Paastoernooi. Die tuisspan wen nadat hulle die besoekers van Wesbank oortuigend 50-17 afgeransel het. Dié toernooi het een van die grootste sportgeleenthede in die streek geword, met wedstryde wat selfs op SuperSport uitgesaai word.

9 Mei: Die Louwville-gemeenskap in Vredenburg is woedend nadat Frizaan Adams (25) se kêrel haar twee kleuters, Conray (1) en Faith (3), Woensdagoggend 1 Mei na bewering koelbloedig vermoor het. Frizaan het in Desember 2018 uit haar ouerhuis in Appiesstraat, Witteklip, getrek om by haar vriend, Derick Kalmeyer (49), in ’n wendyhuis in Houtkapperstraat, Louwville, te gaan woon. Denise Adams, Frizaan se ma, sê sy en haar man het die verhouding van die begin af nie goedgekeur nie.

16 Mei: Ten spyte van koue, nat weer het duisende Weskussers Woensdag 8 Mei na stemlokale gereis om hul kruisies te trek.

Die DA het skoonskip gemaak by 20 van die Saldanhabaai-munisipaliteit se 28 stemlokale. Naas die DA was die uitslae vir die ANC 29,89%, die EFF 3,04%, die VF+ 952 kruisies en Patricia de Lille se Good-party het 659 stemme gekry.

30 Mei: Hopefield is bekend vir bye, sy fynbosskou en nou ook as die plek waar die Suid-Afrikaanse fliek Griekwastad gemaak is.

Hierdie gewoonlik rustige Sandveldse dorp was dié maand (Mei) ’n miernes van bedrywighede in die teenwoordigheid van ’n filmspan wat verskeie tonele van die rolprent in Hopefield verfilm het.

20 Junie: DieSaldanhabaai-munisipaliteit het Saterdag 15 Junie sy nuwe jeugraad vir die volgende termyn in Vredenburg ingelyf.

Die jeugraad is gekies in ’n demokratiese proses waarin plaaslike hoërskole vooraf genader is om graad 10- en -11-leerders te benoem. Die jeugraad self is op ’n raadsvergadering deur die benoemde kandidate onder die toesig van die senior raad verkies. Die nuwe jeugraad staan onder leiding van Cohen Ahrends en Zoey Barends (junior burgemeester).

4 Julie: Twee mense sterf en ses is beseer in verskeie gewapende rooftogte wat 29 Junie en 30 Junie in Vredenburg plaasgevind het.

Die polisie bestempel die voorvalle as die “ergste misdaadnaweek” in Vredenburg se geskiedenis.

Nege verdagtes is vasgetrek.

Ná ’n suksesvolle uitkenningsparade deur slagoffers in Saldanha, het die verdagtes in September die eerste keer in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Hofverrigtinge duur steeds voort.

11 Julie: Die Weskus treur oor twee vissermanne wat op die visskuit Doloreze dood is. Dodelike walms, wat vrygestel word wanneer vis ontbind, het Casper Small en Jahandro Meissenheimer, albei van Velddrif, se dood veroorsaak.

Dodelike gasse is ’n wesenlike gevaar in die pelagiese visbedryf.

Terrasan- pelagiese visserye aan wie die skuit behoort het ’n interne ondersoek oor die voorval van stapel gestuur. Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) ondersoek ook die saak.

15 Augustus: Die bekende Driftwoods-restaurant, een van Langebaan se gewildste toeristetrekpleisters, is Woensdag 7 Augustus in ’n brand vernietig. Weslander het met Jacky Pearce, mede-eienaar van die restaurant, gepraat. Pearce het gesê hul versekeringseis is nou eers afgehandel, daarom kon hulle ongelukkig nie die restaurant voor die feestyd herbou nie.

“Ons wil in Februarie 2020 met die bouwerk begin,” het sy gesê.

29 Augustus: Die Springbokslot Eben Etzebeth word Sondag 25 Augustus by ’n bakleiery en beweerde rasseherrie buite ’n kroeg in Langebaan betrek. Vier plaaslike inwoners van Langebaan, wat as die Langebaan 4 bekend staan, beskuldig Etzebeth daarvan dat hy rassistiese aanmerkings teenoor hulle gemaak het en eis meer as R1 miljoen van Etzebeth. Die saak draai in die gelykheidshof.

12 en 19 September: 10 September 1919 het die eerbare Nicolaas Frederic de Waal, die eerste administrateur van die Kaap, Langebaan as onafhanklike dorp met sy eie bestuursraad geproklameer. Die dorp het sy 100ste bestaansjaar van 10 tot 14 September 2019 met ’n heerlike eeufees gevier.

3 Oktober: Die munisipale grond in Hopefield word aangesien as ’n broeiplek vir misdaad volgens bure wat langs die stuk grond bly nadat ’n gesteelde voertuig op die perseel gekry is. Die Vredenburgse paartjie Jena Skippers en Selwyn Carolus verwelkom hul vyfde kind en trou dieselfde dag in die Vredenburg-hospitaal.

31 Oktober: Die Weskus-sakekamer verwelkom Chamber Air op die Saldanha-vliegveld wat vlugte van Kaapstad na Saldanha in 40 minute aanbied. Transnet stel die langste vragtrein in die wêreld met 375 waens bekend.

7 November: ’n Bekende bejaarde egpaar van Hopefield sterf in ’n motorbotsing by die Moorreesburg-afraai op die R45.

Miljoen rande se skade word in die behuisingsbetoging in Noordhoek veroorsaak.

14 November: Onsekerheid oor die toekoms nadat Saldanha Staal die nuus breek dat ArcelorMittal se Saldanha-aanleg sy deure in 2020 sluit.

28 November: Drie mense is dood en drie beseer in ’n grubotsing by die Jacobsbaai-kruispad net voor die feestyd. Die botsing het in die vroeë oggendure gebeur toe ’n Polo en ’n Sting gebots het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.