SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nuus
3 sterf; 3 beseer in botsing

Amper drie jaar nadat vier vroue hul lewe tragies by die berugte Jacobsbaai-kruispad verloor het, het dié pad weer die lewe van drie mense geëis.

Des Paton, hoof van die provinsiale verkeersafdeling se Weskustak, sê die ongeluk het Sondagoggend 24 November in die vroeë oggendure voor sonop gebeur toe ’n silwer Volkswagen Polo en ’n blou Mazda Sting teen mekaar gebots het.

Al drie insittendes van die Mazda – JP Lingefeld (35), Pearl Louw (48) en Rochelle Adams (47) – is in die botsing dood. Al drie was glo inwoners van Hopefield.

Volgens AO Yolanda Kotze, woordvoerder van die Saldanha-polisie, is nog drie mense in die Polo beseer. Twee is vir minder ernstige beserings in ’n plaaslike hospitaal opgeneem. Die derde insittende is glo van die Vredenburg- provinsiale hospitaal na die Somerset-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas.

“Volgens ooggetuie-verklarings het die Mazda Vredenburg se kant toe gery en by die Jacobsbaai-kruispad regs in die rigting van die vliegveld gedraai. Die Polo het van Vredenburg se rigting af gekom en die Mazda aan die linkerkant getref,” vertel Kotze. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

Dit is egter nog onduidelik oor wat presies gebeur het en die polisie versoek enigeen met bykomende inligting om die ondersoekbeampte, sers. Kleinsmidt, by 022 714 8333 te bel.

Etlike dae voor Sondag se noodlottige botsing het Raymond Marthinus, die pa van Leandré Marthinus, een van die vier vroue wat drie jaar gelede op 23 November 2016 by die kruispad gesterf het, Weslander gebel om sy misnoeë uit te spreek omdat die hofverrigtinge so sloer. Leandré en haar drie kollegas het vir Shoprite se hoofkantoor gewerk en was met die botsing in die Weskus om ’n nuwe Shoprite-tak te besoek.

“Ons woon in die Kaap en dis moeilik om elke keer in Vredenburg vir die hofsaak te wees,” het Raymond gesê.

“Ons was al agt keer in die hof, maar het later opgegee, want die saak word die heeltyd uitgestel. Dis hard op ons as gesin, veral ons kleinseun (Leandré se seun). Hy was al by ’n berader, maar ons raak nou weer bekommerd oor hom.”

AO Kotze het bevestig dat die saak van strafbare manslag teen Hardy Snyman, wat in November 2016 met sy Jeep Cherokee in die vroue se Toyota Corolla vasgery het, steeds in die hof voortgaan.

“Die saak is in April vanjaar na die Vredenburg-streekshof verwys. Dit is die laaste inskrywing op ons stelsel,” het Kotze aan Weslander bevestig.

Raymond sê hy het verneem uitspraak sou in November gelewer word, “maar ek het nog niks gehoor nie”.

Richard Phillips, Hardy Snyman se regs-verteenwoordiger, was nie teen druktyd vir kommentaar beskikbaar nie.

Die Jacobsbaai-kruispad het oor die jare die lewe van talle mense geëis en die beveiliging van die oorgang was al menigmaal die onderwerp van bespreking. Inwoners wat glo te min word gedoen om menselewens by die “gevaarlike kruispad” te bewaar, het ná Sondag se botsing weer op sosiale media teenoor die owerhede uitgevaar. Die pad is die jurisdiksie van die provinsiale regering. Die Saldanhabaai-munisipaliteit het slegs beperkte mag wat die pad betref.

Ethne Julius het namens die munisipaliteit se padafdeling gesê die provinsiale padowerheid het sedert 2016 reeds verskeie verbeterings soos bromstroke en bykomende kennisgewingborde by die kruispad aangebring.

Sy sê ook die beplande geometriese opgradering van die kruispad is in die ontwerpfase. Die prioriteitstatus en besonderhede van die implementeringsfase van die opgradering is onbekend.

“Munisipale verkeers-wetstoepassing het reeds hul ure aangepas om naweke langer op die paaie sigbaar te wees.”

Sy sê ook in haar skrywe dat ’n spesiale taakgroep vanaf 5 Desember 24 uur per dag oor die feestyd van Donderdae tot Sondae diens sal verrig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.