Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Almal dalk nie tevrede ná 2018 – tóg ’n jaar van sukses

Geagte Bergrivier-inwoners,

Ons nader vinnig die einde van 2018 en daar is groot afwagting vir 2019. Die jaar was vol vreugde, maar ook trane. Ek wil vandag as burgemeester alle inwoners hartlik bedank vir hul ondersteuning aan die munisipaliteit gedurende die jaar. Ons het moontlik nie almal tevrede gestel nie, maar ons sal aandag gee aan alle uitstaande sake van die publiek.

Die Bergrivier-munisipaliteit kan met trots aankondig dat ons die derde agtereenvolgende jaar ’n skoon oudit gekry het. Dit is te danke aan goeie oorsig en besluite van die raad en uitstekende bestuur deur die munisipale bestuurder, direkteure en ons werkers by Bergrivier. Ons verseker inwoners dat hul belange eerste kom en dat ons glo aan ’n skoon administrasie. Inwoners is welkom om my enige tyd te kontak as hulle bewus is van korrupsie of nepotisme by die munisipaliteit.

Belangrike sake van gemeenskaplike belang soos die volgende geniet tans aandag by die burgemeesterskomitee: Ons kyk na die afskryf van agterstallige skuld van deernisgevalle en afgestorwenes se rekeninge; oprigting van onwettige strukture; tydelike aanstelling van munisipale werkers se familie en vriende; uitkoop van grond vir behuising; die aanbring van spoedwalle in woongebiede om spoedvrate te keer; die teer van alle grondpaaie in ons woongebiede; onwettige smokkel en dwelmhuise en die rol van brandweerdienste in ons onderskeie dorpe gaan ondersoek word.

Die volgende inligting is die korrekte weergawe van die tye van die drankverordeninge wat in die provinsiale koerant aangekondig is. Drankure is van Maandae tot Saterdae van 09:00 tot 20:00 en gesluit op Sondae. Drankwinkels mag egter aansoek doen vir Sondae, maar mag ná goedkeuring net drie Sondae oop wees. Geen drankwinkels mag Kersfees en Paasfees oop wees nie. Ons gaan vroeg volgende jaar ’n gesprek voer met die polisie in Bergrivier oor die onwettige drinkplekke in ons gebied.

Ons gaan die laaste dae van die jaar in en almal maak gereed vir Kersfees- en Nuwejaarsvieringe met vriende en hul gesinne.

Kom ons vier dit vir die doel van die geboorte van Jesus en nie om mekaar uit te buit of seer te maak nie. Ouers, hou jul kinders te alle tye in jul sorg en wees versigtig vir vreemde mense naby hulle. Maak seker huise se vensters en deure is gesluit, veral vir diegene wat met vakansie gaan.

Moenie drink en bestuur nie en hou matigheid voor oë. Betoon liefde aan jou medemens en veral bure gedurende die feestyd. Kom ons deel ons kos op Kersdag met mekaar, veral met diegene wat op straat bly of minderbevoorreg is.

Dra my gelukwensing oor aan jul kinders wat volgende jaar na ’n hoër graad vorder. Diegene wie se kinders nie so gelukkig was nie, mag 2019 vir hulle ’n beter jaar wees.

Bergrivier-munisipaliteit wil alle onderwysers van ons skole in Bergrivier bedank vir die rol wat hulle in ons kinders se opvoeding gespeel het en nog in die toekoms gaan speel.

Ons hou Dinsdag 1 Januarie Nuwejaarsvieringe in Velddrif by die Pelikaanstrandoord, in Porterville by die dam en in Piketberg by Calendulastraat. ’n Lekker opskop gaan in die kleiner dorpe ná Nuwejaar gehou word. Ons sal meer inligting op ons sosiale media hieroor deel.

Namens die burgemeesterskantoor, burgemeesterskomitee, raadslede en administrasie wil ons almal ’n geseënde feestyd en ’n voorspoedige 2019 toewens.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.