Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Apteker trap diep spore aan die Weskus

Dekades lank het hy medisyne aan Weskussers uitgereik. Nou gun hy die regte medisyne vir homself – tuinmaak in Hartenbos se verfrissende seelug.

Vriende en medici het verlede week op ’n gepaste wyse van die bekende Weskus-apteker, Japie Schreiber (70), afskeid geneem en hom ’n rustige en voorspoedige aftrede aan die Tuinroete toegewens.

’n Afskeidsgeselligheid is Woensdag 10 Julie vir Schreiber in die Langebaan-gemeenskapsaal gehou. Schreiber het die afgelope sewe jaar by die Link-apteek in Langebaan gewerk.

Schreiber het Maandag aan Weslander gesê die partytjie was ’n “groot verrassing”.

Hy het wel geweet daar gaan een of ander tyd ’n geselligheid wees, want hy is ’n “besige man” en is vooraf gevra om beskikbare datums te verskaf, maar hy sê hy was Woensdag “heeltemal onkant gevang”.

Hy vertel dat hy werklik aangedaan was om al die bekende gesigte saam met wie hy jare lank gewerk het, te sien. Enkele van die plaaslike dokters saam met wie Schreiber “al jare aankom”, is onder meer drs. Susan Annandale, Hester van der Walt, Piet Boer en Christo Smit van Vredenburg, asook drs. Joos Bester en Marie Human van Langebaan.

Voor Schreiber se betrokkenheid in Langebaan was hy twee dekades werksaam as apteker by die Transmed-apteke in Vredenburg en ook in Bloemfontein.

Schreiber se vrou, Sumarie, het 28 jaar met velkanker geleef en haar stryd in 2006 uiteindelik teen die siekte verloor. Kanker is daarom ’n kwessie wat Schreiber besonder na aan die hart lê en hy was dekades lank aktief by die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) betrokke. Schreiber was van 2001 tot 2010 die voorsitter van Kansa se Vredenburg-tak.

“Ons het destyds die eerste Relay for Life in Vredenburg gereël,” vertel Schreiber oor die suksesvolle jaarlikse geleentheid waar aflosspanne deurnag om die Vredenburg-sportveld loop om geld vir kankernavorsing in te samel.

Schreiber is ook grootliks verantwoordelik vir die stigting van die kankerkamer by Huis Wittekruin, ’n tehuis vir bejaardes.

Karin Hubbard, bestuurder van die tehuis in Vredenburg, sê die kankerkamer is vandag steeds in gebruik.

“Terminale kankerpasiënte van Kansa en die St. Helena Sandveld-hospies word ’n paar weke op ’n keer in die kankerkamer versorg om hul gesinne ’n blaaskansie te gee,” verduidelik Hubbard.

Schreiber het oor die jare diep spore in die aptekerswese getrap. Hy was die voorsitter van die Aptekerstudente-federasie van Pretoria, die president van die SA Aptekerstudente-federasie en hy reël die eerste aptekerstudente-federasiekongres in 1973. Hy was ook as die sekretaris van die Pretoria-aptekersvereniging gekies en het as voorsitter in die bestuurskomitee van die Vereniging vir Hospitaal- en Inrigting-aptekers gedien.

Later vanjaar, in Oktober, sal die Suid-Afrikaanse Aptekersraad ’n spesiale prys aan Schreiber oorhandig vir sy positiewe bydrae tot die gesondheid van Suid-Afrikaners.

Schreiber was op sy dag ’n kranige sportman en is steeds gek oor krieket, rugby, tennis en atletiek. Hy was destyds die voorsitter van die Transvaal/Vrystaat-sportraad, die voorsitter van Schoemanspark-ontspanningsklub waar altesaam 16 verskillende sportsoorte beoefen is, en is ook ’n lewenslange erelid van hierdie klub.

Michele Stramrood, hulp-apteker by die Clicks-apteek in Vredenburg, sê sy bedank Schreiber vir haar loopbaan.

Sy was ’n jong enkelma wat baie swaargekry het, en het as ’n kelnerin by ’n restaurant in Vredenburg gewerk. Schreiber het hom oor haar ontferm en vir haar werk by die Transmed-apteek aangebied.

“Hy het my alles van die bedryf geleer,” vertel sy. Te danke aan Schreiber, wat aanvanklik groot potensiaal in haar raakgesien het, het sy ook later die geleentheid gekry om deur die Clicks-apteekgroep te studeer. Schreiber het Stramrood se jonger sussie op dieselfde manier gehelp.

“Hy het ’n groot hart vir mense en ek sal hom altyd as my mentor beskou,” sê Stramrood.

Schreiber sien uit na sy aftrede, maar hy sê daar is nog werk om te doen voordat hy oor ’n maand of twee permanent van die Langebaan-apteek weggaan. Schreiber lei Eben Ferreira op wat die leisels by hom sal oorneem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.