Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘As jy jouself wil ophang, is dit reg so’

Denise Adams ken nie die nommer nie. Sy huiwer vir ’n oomblik, maar antwoord tog maar haar foon.

“Hoe gaan dit?”

Sy herken dadelik die man se stem. Dis Derick Kalmeyer (50), die man wat tereg staan weens die dubbele moord op haar twee kleinkinders. Denise se dogter, Frizaan Adams (25) se kleuters, Conray Adams (1) en Faith (3) het op 1 Mei gesterf nadat hulle herhaaldelik met ’n mes by ’n huis in Louwville, Vredenburg, gesteek is. Frizaan en Derick het ’n verhouding gehad.

Oproepe uit die tronk

Denise word yskoud.

Kalmeyer bel haar natuurlik uit die tronk.

“Hoe kan jy my vra hoe dit gaan?!” wil Denise weet.

Stilte.

“Hoekom het jy dit gedoen, Derick?” vra sy weer.

“Vra eerder vir Frizaan waarom sy weggehardloop het?” antwoord Derick.

“Sou jy haar nie dan ook doodgemaak het nie?”

Weer stilte.

Frizaan het die tragiese nag van die kleuters se dood glo vir Derick gevlug toe hy haar met ’n mes en ’n koevoet probeer aanval het. Weslander het in Mei berig dat Derick se suster na bewering vir Frizaan in ’n kas gaan wegsteek het, uit vrees dat Derick haar sal seermaak.

Denise glo Derick het sy woede op die kinders uitgehaal toe hy nie by Frizaan kon uitkom nie.

Denise is nie seker waarom Derick haar uit die tronk gebel het nie. Dalk tart hy haar, dalk wil hy die waarheid praat, “maar hy weet nie hoe nie”.

Verlede Sondagoggend, ’n dag voor Derick se volgende hofverskyning in Vredenburg, het hy weer vir Denise gebel.

“Ek wíl met hom praat, want ek soek antwoorde,” het die gebroke ouma Dinsdag aan Weslander gesê.

Sy het die foon geantwoord en vir hom gefluister hy moet haar later bel, want sy is in die kerk.

“Ek kan nie, want later is ek opgesluit. Dan sien ons mekaar maar môre (in die hof).”

“Wat is dit veronderstel om te beteken?” wou sy verontwaardig weet.

Hy het die foon doodgedruk.

Trane tydens tronkbesoek

In Denise se soektog na antwoorde, enigiets wat hul ondraaglike pyn selfs net effens kan verlig, het sy en haar oudste dogter, Nathanine, vir Derick in die Malmesbury-gevangenis gaan besoek.

“Ek wou hom in die oë kyk en hom reguit vra waarom hy die kinders seergemaak het. Ons het deur die glas met hom gesit en praat,” vertel Denise.

Sy sê hy was ’n bietjie maer, maar opgewek en het gesond en netjies in die oranje oorpak gelyk.

Volgens Denise wou Derick steeds nie haar vrae beantwoord nie en hy het oor allerhande ditjies en datjies gepraat.

Hy het selfs vertel dat sy familie vir hom ’n groot partytjie in die tronk gaan hou wanneer hy verjaar.

Hy het ook glo terloops genoem dat hy nie kan slaap nie en dat hy ’n dokter daaroor wil spreek.

“Ons kan ook nie slaap nie, Derick. Ek en Frikkie (haar man) lê wakker. Jy het ons hele huishouding ontwrig,” het sy aan hom gesê.

Hy het ons net aangekyk.

“Hoe voel jy?” het sy toe gevra, in die hoop dat hy moontlik selfs net ’n sweempie van berou sal toon.

Hy het glo na homself gewys en gesê hy “voel soos een wat getik is”.

Derick het hulle nie geantwoord toe hulle wou weet of hy onder die invloed van tik was die nag van die kinders se dood nie.

“Nathanine het hom ’n paar keer gevra of hy darem vir ons kinders lief was, maar hy het heeltyd om die storie gepraat.”

Later het Nathanine die woord “lief” met “omgee” vervang en Derick het uiteindelik geantwoord: “So ’n bietjie.”

Denise vertel sy en Nathanine se trane het onophoudelik geloop terwyl hulle met Derick gepraat het.

“Julle sal maak dat ek myself gaan ophang,” het Derick glo in reaksie op Denise en Nathanine se trane gesê.

“As jy dit wil doen, is dit reg so. Dis jou saak,” was Denise se antwoord.

Dit gaan beter met Frizaan

Denise sê haar dwelmverslaafde dogter, Frizaan, die ma van die vermoorde kleuters, “is deedae baie stil, maar dit gaan beter. Sy sê nie veel nie, maar sy het uit haar eie begin kerk toe gaan en uiteindelik die graffies gaan besoek.”

“Zani sien uit na die rehabilitasiesentrum. Ons wag nog net vir die oproep om te hoor wanneer sy moet gaan. Ek glo my meisiekind wil hierdie ding klop en ek het haar gewaarsku dat wanneer sy terugkom, sy haar vriendekring sal moet verander. En sy besef dit ook.”

Saak na hooggeregshof verwys

Die dubbele moordklag teen Derick Kalmeyer is op 8 Julie in die Vredenburg-landdroshof na die Kaapse hooggeregshof oorgeplaas waar Kalmeyer weer op 13 Augustus sal verskyn. Kalmeyer is na die Pollsmoor-gevangenis verskuif.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.