Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Baai toon ligpunte en uitdagings

’n Gesondheidsverslag van die watergehalte van Saldanhabaai word elke jaar by ’n opedag voorgelê.

Die jaarlikse verslag word saamgestel uit moniteringsinligting wat deur die Saldanha Bay Water Quality Forum Trust (SBQFT) ingewin en geïnterpreteer word.

Vanjaar se opedag was Vrydag 25 Oktober en is weer in die Athene-konferensiesaal by Club Mykonos gehou. Die verslag is deur Barry Clark van Anchor Environmental aangebied.

In ’n neutedop

Gaste het by die geleentheid gehoor die nuutste verslag toon oorwinnings, maar ook vele uitdagings vir Saldanhabaai.

In ’n neutedop toon die verslag dat skeepsverkeer, ontwikkeling en akwakultuur in die baai aan die toeneem is, wat moontlik tot verskeie bykomende omgewingsprobleme kan lei.

’n Ligpunt is die hergebruik van afvalwater deur nywerhede. Dit beteken afvalwater beland nie in die baai soos in die verlede nie. Die gehalte van water en sediment verbeter of is ten minste stabiel op sekere plekke.

Bentiese mikrofauna (diepwater- of seebodemorganismes) kom in oorvloed voor en neem toe. Vis en voëls word egter minder. Uitheemse marienespesies neem vinnig toe en besoekergetalle het gedaal.Erosie in Langebaan verbeter

Sedert konstruksie van die hawe in die 1970’s het die noordelike strand­gebied van Langebaan aansienlik gekrimp – só erg dat erosie ’n ernstige bedreiging vir talle woonhuise geword het.

Clark het by die opedag vertel dat groot skade deur ’n storm in Junie 1997 aan huise aangerig is.

Hierdie probleem het vroeg in die nuwe millennium kritiek geraak. Volgens Clark is sandsakmure tussen 2004 en 2008 op bepaalde plekke in die water geplaas om die see se vloei in daardie gebiede te verander om sodoende strandgebied terug te wen. Groot betonklippe is op die strandgebied geplaas, wat reg voor die ingang van die baai na die diepsee is. Hierdie deel van die strand word die ergste deur erosie geraak.

Clark sê die sandsakprojek was suksesvol aangesien die strand in hierdie gebied sedert 2003 weer heelwat verbreed het. Die Langebaan-kuserosieprogram is in 1994 deur die Saldanhabaai-munisipaliteit begin en in 2017 gestaak. Die SBWQFT het die moniterings­program in 2019 oorgeneem.

Die SBQFT het in sy navorsing bevind die noordelike deel van die strand toon sedert 2008 ’n verlies van 45 440 m³. ’n Oranje-gradering, wat aanvaarbaar beteken, is hieraan toegeken. Die suide­like deel van die strand toon ’n toename van 30 705 m³ oor dieselfde tydperk. ’n Groen-gradering is hieraan toegeken en dit beteken die uitkoms is goed.

Algehele gesondheid van die baai

Die algehele groen-gradering wat aan die baai toegeken is beteken dat die toestand van die baai goed is. Hierdie gradering word omskryf as ’n toestand waar verandering van die natuurlike omgewing tot ’n mindere mate wel voorkom. Dit beteken daar is ook ’n klein tot middelmatige verlies aan biodiversiteit en ekosisteem-integriteit. Daar is wel menslike versteuring, maar die ekostelsels is in ’n goeie toestand. Die beste gradering is blou. Dit beteken die natuurlike omgewing is byna onversteurd deur menslike aktiwiteite, ontwikkeling.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.